Update Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Vier voetgangers het Sondagmiddag 16 April om 13:27 die dood rakelings vrygespring - letterlik - toe die bestuurder van 'n gesteelde voertuig tydens 'n jaagtog in Cradock beheer verloor het en in Metcalfstraat op hulle afgepyl het.
Die vier tieners het met 'n breukdeel van 'n sekonde daarin geslaag om uit die pad van die Mercedes Benz te kom, wat op die presiese plek op die sypaadjie waar die groepie gestap het omgeslaan en gerol het.
‘n Video van die noue ontkoming is vasgelê deur ‘n sekerheidskamera en word wyd en syd op sosiale media gedeel.
Die Mercedes Benz ML 2017-model is Sondagoggend in George in die Wes-Kaap gesteel, en nie 'n maand gelede soos vroeër berig nie.
Die eienaar van Outeniqua Motors in George, Brett Stander, het onmiddellik die diefstal by die polisie in George rapporteer na die voertuig vroegoggend by sy besigheidsperseel gesteel is.
Die Mercedes is later deur ‘n kamera van Navic (National Vehicle Intelligence Cloud) in Graaff-Reinet bespeur en toe weer in Cradock. 'n Privaat sekerheidsmaatskappy, CDK Sekuriteit en die Cradock-polisie het toe die voertuig agterna gesit en ‘n hoëspoed jaagtog het gevolg.
Die bestuurder, 'n 45-jarige man is glo ongedeerd, en het Maandag 17 April in die Cradock-landdroshof verskyn.
Lees meer Donderdag in die Graaff-Reinet Advertiser en ook aanlyn.
Vorige artikel: Jaagtog in Cradock eindig sleg vir gesteelde Benz van George
VERSKAFDE VIDEO:
Die bestuurder van die gesteelde Mercedes Benz ML 2017 is glo ongedeerd en het reeds in die hof veskyn.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’