Gallery Update
NIEU-BETHESDA NUUS - 'n Hewige haelbui en stormreën het Dinsdagmiddag groot verwoesting op Nieu-Bethesda gesaai.
Die naam Nieu-Bethesda is van bybelse oorsprong en beteken "plek van vloeiende water". Dinsdag het die dorp sy naam gestand gedoen toe 40 mm reën binne 30 minute uitgesak het. Op Ganora-gasteplaas 8 km noord-oos van Nieu-Bethesda het 20 mm reën in net 10 minute geval.
Huise het oorstroom en paaie is in riviere omskep. Groentetuine, struike en druiwepriële is verwoes.
Bronwen Langmead, wat 'n gastehuis op die dorp besit, sê 'n massiewe hoeveelheid hael het op die oostelike hange van die vallei gestort en toe dit smelt het 'n kitsvloed die noordelike deel van die dorp getref.
"Die storm het vreeslik vinnig gekom, eers met baie hael - op sommige plekke 'n voet diep. Die strate het in yskoue riviere ontaard."
Fotogalery: Hewige haelbui en stormreën sak op Nieu-Bethesda
Sy sê inwoners van Immelmanstraat het na die storm op hulle dakke geklim om die tonne hael af te skraap wat in die sinkdakke se groewe versamel het en deur skroefopeninge in huise gestroom het.
"'n Ongewone lae misbank het oor die grond gehang soos die yskoue water die warm lug tref. Die Gatsrivier het oorstroom en die pluspunt is dat al die water nou Nqewbadam toe loop."
Baie opruimingswerk lê voor.
Krag- en wateronderbrekings kom voor nadat kabels en pompe in die storm beskadig is. Die munisipaliteit se tegniese span werk aan die probleem. TV-seinkabels is ook beskadig en sal eers volgende week herstel word.
Dit het Maandag lekker in die Noupoort-omgewing gereën, waar 66 mm op die plaas Bovlei gemeet is, maar, teen die Advertiser se saktyd Woensdagoggend, was Graaff-Reinet nog droog, al het die weerdiens donderstorms vir die dorp voorspel.
Die reënval in Graaff-Reinet sedert 1 Januarie soos verskaf deur Thinus Ferreira is as volg:
- 4 Jan - 10 mm
- 5 Jan - 12,5 mm
- 7 Jan - 1,5 mm
- Totale reënval - 24 mm
'n Vreemde lae misbank hang oor die dorp. Foto's: Bronwen Langmead
Vorige artikel: Hailstorm causes havoc in Nieu-Bethesda
'Ons bring jou die nuutste Nieu-Bethesda, Karoo nuus'