RUBRIEK - Oom Klaas het verneem van 'n kwaadstoker se galbraak wat soos 'n veldbrand deur die noue gemeenskap trek. Ek vra hom so in die gesels wat hy daarvan dink.
"Hmm ... laat my dink aan 'n lied van Peter Gabriel – spesifiek soos vertolk deur Joan Baez – ja, en dan natuurlik aan daai potsierlike figuurtjie van 'n man in die moderne geskiedenis.
"Vat nou maar 'n enkele vuurhoutjievlam ... baba se asem blaas 'n vuurhoutjie uit soos niks. Maar sit daai selfde tenger vlammetjie van een vuurhoutjie in 'n droë grasveld en laat die wind se asem hom blaas, dan kyk jy hoeveel helikopters jy nodig het om daai veldbrand te blus. En vuurhoutjie se vlam is g'rus al uitgebrand, dan loop die veldbrand nog.
"Dis die ding van 'n gesoute kwaadstoker se storie – dit begin as 'n enkel vuurhoutjievlam. Maar laat daai vlammetjie begaan ... soos Gabriel geskryf en Baez so gevoelvol sing in 'Biko': You can blow out a candle, but you cannot blow out a fire. When the flame begins to catch the wind will blow it higher...
"En dan vat jy nou vir Hitler – stel jou voor as ou Hitler vanmelewe wou oorlog maak, maar g'n mens het hulle ore aan hom uitgeleen nie; en g'n paar voete het aangetree om deel van sy troepe te word nie; en niemand se hande het 'n enkele stuk metaal of ander materiaal omskep in 'n wapen of 'n aanvalsvoertuig of ammunisie of kommunikasietoerusting nie – hoe sou daai klong die wêreld verander het soos dit verander het? Presies wat sou dié netelige mannetjie nou eintlik vermag het as hy bloot net nooit enige erkenning ontvang het nie, om mee te begin? As hy maar net by een van sy eerste toesprake stilgemaak is, waar sou hy nou eintlik in die geskiedenis opgeteken gewees het?
"En gepraat daarvan: presies hoeveel mense wat die saad vir 'n oorlog saai, neem werklik deel aan die gevegte in so 'n oorlog?
"Nou, 'n gesoute kwaadstoker vind gewoonlik iewers 'n gevoelige plekkie in die vlees en dan druk hulle net reg op daai kol ... soos Hitler gedoen het. Algou sal die gehoor groei en gemoedere begin styg sodat daar voete en hande kan wees wat sal opdaag vir die oorlog, want die kwaadstoker self loop soek mos skuiling wanneer die oorlog dik aan die gang is – nes Hitler in sy skuiling.
"So jong, 'n man moet maar die vuurhoutjie isoleer dat hy op sy eie eenkant kan uitbrand; of jy moet hom uitblaas voordat sy vlam in die droë grasveld land ... veral as jou huis deur daai droë grasveld omring word. Want kanse dat niemand gaan opdaag vir 'n oorlog wat uitbreek nie, is maar blote wensdenkery."
Ek kan nie help nie en kry myself herhaal: "Stel jou voor: 'n oorlog breek uit en niemand daag op daarvoor nie ... wensdenkery."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’