RUBRIEK - Vra hom oor leierskap en Klaas Niemandt kyk na die landerye waar die koring in geel golwe wieg in die ligte windjie. Met sy pyp tussen duim en wysvinger vasgeknyp wys hy na die grond en sê: "Amper tyd! Dis nou naby, dan moet ons in die nag begin stroop."
Oom Klaas proe aan sy koffie en suig behaaglik aan sy pyp.
"In die lewe kies ons maar of ons die ryp koringland betree met 'n sekel of 'n vuurhoutjie. Mag ons die wysheid vind en behou om te oes, eerder as om te verwoes."
Dit is asof oom Klaas dán eers onthou wat die vraag eintlik was.
"Dis die ding van leiers - hulle moet besef die mense wat hulle lei, is dikwels soos 'n ryp koringland ... wagtend gereed. 'n Ryp, droë koringland is ewe gereed om te brand as om geoes te word.
Die boer besluit wat hulle in die hand wil hou: 'n vuurhoutjie of 'n sekel. Wanneer leiers met hulle ondersteuners praat, kies hulle wat hulle wil predik: opbouende samewerking en vooruitgang, of woedende, verwoestende vernielsug.
"Maar daar is nie net leiers in gemeenskappe, politieke partye en in die land nie. Daar is leiers op skool. Daar is leiers in huishoudings. Dis 'n nuwe jaar en in skole is daar leerlinge wat in leierskapposisies is. Hulle het ook dieselfde keuse: vuurhoutjie of sekel. In huishoudings waar daar kinders is, is daar 'n ryp koringland. Die bestuurder van daardie huishouding het die keuse: vuurhoutjie of sekel. Wanneer jy die mens jonger as jy leer om eerder te brand as om te oes, weet maar dat jy self ook dalk honger mag gaan slaap."
Klaas Niemandt is vandag haastig. Daar is werk wat gedoen moet word en die dag wag vir niemand nie.
Met die groetslag, gee hy weer 'n kyk in die rigting van die koringland en voeg as nagedagte by: "Markus. Dit was Markus wat in die Skrif praat van die sekel wat dadelik ingesteek moet word wanneer die oes ryp is. En vergeet nie vir Openbaringe 14 nie! Mooi loop tot volgende keer."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'