RUBRIEK - Oom Klaas sit en vryf-vryf met die wysvinger van sy hand wat die sigaret vashou ál onder sy onderlip – so heen en weer; peinsend.
Dan vra hy my wat is die kortste vers in die Bybel. Ek antwoord nie; hy sal vertel: "Johannes 11:35 – Jesus het geween."
"Sien jy hoe kort kan die waarheid gepraat word? Die waarheid hoef nie altyd el-lank uitgespel te word nie; dit kan ook net geleef word.
"Daar is mense wat met baie praatjies baie gaatjies maak – hulle praat eerder oor en van iemand as met daardie iemand. Dan is daar mense wat sluip-sluip vertroulik fluister van oor tot oor; daar's diegene wat glo praat is doen; en dan is daar doodgewone praatvrate. En in die proses bly die waarheid dikwels in die slag – gereeld produktiwiteit ook. Ek sê jou wat: vermy hulle almal opslag.
"Maar kom ons kom terug by Johannes. Stel jou voor om Jesus te sien ween. Oor mense se hartgebrokenheid. Oor 'n geliefde wat dood is ... Kan jy jou die ontsettende realiteit indink om vir Jesus te sien ween? En tog beskryf Johannes dit nie. Hy skryf drie woorde ... net drie woorde. Want die waarheid is gelééf; nie gepraat nie: Jesus. Het. Geween.
"Ek het jou al gesê oor party goete in die lewe praat 'n man nie; jy leef dit net. Om te ween, is een van daai goete – jy kan nie ween praat nie; jy WEEN hom.
"En vandag ween ek, hoor jy.
"Ek is anderdag genooi na kosbare vriende – vriende van hulle het kom kuier; ons moet kennismaak. En wat sien ek daar? Twee jare lange vriende; die een jonger en die ander ouer. Hulle verwys na mekaar as 'soos pa en seun'. Hulle blydskap om in mekaar se geselskap te wees haas tasbaar. Dit is asof hulle elke oomblik van die aand stadiger wil maak sodat hulle nog meer kuier kan inpas. Maar daar is ook 'n onderliggende rustigheid tussen die twee – die seker wete dat, maak nie saak wat die dag van môre inhou nie; DIE vriendskap is opreg en vir ewig en dan nog 'n bietjie.
"En dit is vir my mooi. Jy weet, ek het hulle twee so opgelet. Toe kry ek myself wonder oor wanneer die lewe se uurglas leegloop vir een van die twee en ek is nog in die ronde, wat sou ek vir die oorblywende een sê?
"Ek het besef ek sal nie praat nie. Ek sal ween. Want uit die opregte medelye wat in ween vergestalt, word deernis gekweek. Deernis, een van DIE verreikendste en verrykendste sielsvrugte waaroor 'n mens moontlik kán beskik.
"So vandag ween ek oor lewenslange vriendskappe. Maar ek ween vandag sodat ek môre in deernis my vriende kan koester. Ons hoef nie net te ween wanneer hartseer ons verswelg nie. Die allermooiste vriendskap kan ons ook laat ween – solank die sielsvrug van deernis daaruit voortspruit.
Want net so min soos man-man ween bepraat, net so min bepraat jy deernis en nog minder bepraat jy 'n vriendskap – jy LEEF hom; elke dag."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’