RUBRIEK - Vra hom oor die reën wat so mildelik in ons omgewing val, en Klaas Niemandt trek aan sy pyp, neem 'n slukkie moerkoffie uit sy verweerde blikbeker, sug behaaglik en sê:
"As jy bid vir reën, bid met 'n sambreel in die hand. Ja, en wees ook bereid om die modder te aanvaar."
Oom Klaas praat eers nie verder nie. Hy drink sy koffie en rook sy pyp. Maar dan sak sy woorde uit soos 'n wolk wat te swaar geraak het.
"Jy moet glo soos 'n kind glo; en jy moet voorbereid wees op wat jy mag ontvang as jy vra; en jy moet weet wat jy gaan doen met wat jy ontvang; en as jy dink die lewe is net maanskyn en rose, dan lewe jy nog nie lank genoeg nie. Elke dag het 'n nag ook. Aanvaar verantwoordelikheid en dink voor jy vra!
"As jy vra vir hulp - soos om te bid vir reën - moet jy voorbereid wees om die hulp te aanvaar. Dis hoekom jy vir reën moet bid met 'n sambreel in die hand. Jy moet mos glo jy sal die hulp waarom jy vra, ontvang. Nou wat gaan jy maak as jy bid dat dit sal reën en dan reën jy nat? Gaan jy bid dat dit nou moet ophou reën, of gaan jy jou sambreel oopmaak en dankie sê vir die reën waarvoor jý gevra het?
"Maar nog belangriker: jy weet mos reën is water en water is nat. En jy weet mos grond met water maak modder. Nou as jy dan nou vra vir genade water, dan moet jy mos weet die teenkant van die munt is modder! Reën wat nie van grond modder maak nie, beteken maar net dit het nog nie klaar gereën nie.
"Ons sê vinnig en maklik modder is 'n gemors en maak vuil en is gevaarlik. Maar hier in hierdie land is vanmelewe huise gebou met modderstene! En hulle staan vandag nog - ver meer as 'n eeu later. Bakke, borde, beelde, noem dit, word vandag nog gemaak uit klei en wat is klei anders as modder? Moenie die modder wegwens of skel nie. Dink wat jy met die modder kan maak, man!
"Reën self kan natuurlik gevaarlik wees. Daar is 'n ding soos te veel. Niks in die lewe is nét goed of nét sleg nie, so jy moet weet wat jy vra wanneer jy vra vir reën. Wees versigtig om in die lewe sommer net te vra oor vra vra is. Dink maar eers of jy regtig kans sien vir wat mag volg."
Met daardie laaste sin druk Klaas Niemandt sy pyp dood met sy duim, skud sy leë blikbeker uit en staan op van sy sitplek op die trappie. Net soos 'n vinnige vieruur-in-die-middag somer-donderstorm is ook sý praat meteens verby. Hy groet met: "Onthou, jy het beheer oor wat jy vra, nie oor wat jou aangebied word nie."
(Klaas Niemandt sal voortaan gereeld sy sê in die Graaff-Reinet Advertiser sê. -Redakteur).
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'