Update
GRAAFF-REINET NUUS - Beswaarde inwoners van Graaff-Reinet, het onder die vaandel van die Action Save DBNLM Movement, Maandagoggend douvoordag die munisipale geboue in die dorp se deure met kettings toegesweis om toegang te verhinder.
Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat sommige munisipale eiendomme, sonder die gemeenskap se medewete, glo later die dag aanlyn opgeveil sou word.
Die Graaff-Reinet-vliegveld word ook Woensdag 13 April opgeveil.
So sê die burgemeester
Die beswaarde inwoners is dit eens dat hulle nie noodwendig teen die verkoop van munisipale bates is nie, maar dat publieke konsultasie 'n wetlike en grondwetlike vereiste is.
Die burgemeester van die DBNLM, Ewald Loock, het bevestig dat die raad tydens 'n raadsvergadering besluit het om vier munisipale bates, die vliegveld, die ou swembad en twee van die industriële eiendomme te verkoop.
Hy het ook bevestig dat die veiling van die twee industriële eiendomme en die vliegveld vir 11 en 13 April onderskeidelik geskeduleer was, maar kon nie die datum van die ou swembad se veiling bevestig nie.
Volgens Loock is die besluit om die ou swembad te verkoop gebaseer op die feit dat dit so erg verniel is.
"Beide die ou swembad en die vliegveld het finansiële laste vir die munisipaliteit geword. Dit kos die munisipaliteit amper R2 miljoen per jaar om die vliegveld in stand te hou en daarom maak dit sin om dit te verkoop aan iemand wat die instandhouding kan bekostig," verduidelik Loock.
Die vliegveld het ook die potensiaal om regsprobleme te veroorsaak omdat dit soveel gevaar inhou. Loock vertel dat daar byvoorbeeld onlangs 'n insident was waar 'n vliegtuig geland het en daarna met 'n bok gebots het.
Loock verduidelik dat almal wat toegang tot die vliegveld het, en gebruik daarvan maak, steeds dieselfde regte sal geniet omdat dit spesifiek deel vorm van die koopvoorwaardes.
Insake die verkoop van industriële eiendomme verduidelik Loock dat enige persoon wat industriële eiendom wil koop die munisipaliteit kan nader om dit te koop en daarom is publieke konsultasie nie nodig nie.
Loock is van mening dat daar wel voldoende publieke konsultasie en -deelname was. Hy sê dat hy nie seker is hoe dit afgeloop het nie, maar dat hy weet dat daar wel 'n program vir publieke deelname was.
Hy noem ook dat daar vir die volgende twee weke gemeenskapsvergaderings in Graaff-Reinet sal wees waar inwoners vrae rakende die verkoop van bates kan vra. Hierdie gemeenskapsvergaderings vorm deel van sy gemeenskapsuitreikprogram as burgemeester en het reeds in die ander dorpe binne die munisipale area plaasgevind.
Inwoners het die hekke toegesweis om toegang tot die gebou te verhoed.
Die gemeenskap
Die beswaarde inwoners is egter van mening dat daar geensins enige behoorlike publieke deelname was nie. Hulle noem dat die munisipaliteit geen bewyse van enige gemeenskapsvergadering ten einde die verkoop van munisipale bates te bespreek kon lewer nie.
Die munisipaliteit het ook tot dusver steeds nie op 'n enkele een van die groot aantal briewe wat deur die gemeenskap in hierdie verband ingedien is geantwoord nie.
Die Action Save DBNLM Movement het ook al meer as een brief aan die munisipaliteit gerig ten einde gemeenskapsvergaderings rakende die verkoop van munisipale bates te verseker, maar die munisipaliteit het glo geen ag daarop geslaan nie. Loock kon nie verduidelik hoekom daar nie op enige van gemeenskap se briewe gereageer is nie. Volgens hom kan hy nie daarop kommentaar lewer nie omdat die briewe glo ten tyde van die vorige raad se termyn ingedien is.
Die beswaarde inwoners het hul misnoeë later Maandagoggend verder gedemonstreer deur met plakkate voor die munisipale tesourie kantore in Caledonstraat te betoog.
Sias Smith, sameroeper van die Action Save DBNLM Movement, het ook bevestig dat hulle 'n skrywe aan die Oos-Kaapse LUR vir die departement van samewerkende regering en tradisionele sake sowel as die premier van die Oos-Kaap gerig het waarin hulle dringende ingryping in hierdie beweerde onwettige en ongrondwetlike verkoop van munisipale bates versoek.
"Deur toe te laat dat die verkoop van munisipale bates voortgaan sonder behoorlike publieke konsultasie en deelname sal die boodskap uitgestuur word dat die DBNLM verhewe is bo die wet én die Grondwet en dit sal 'n kultuur van wetteloosheid bevorder. Ons is wetsgehoorsame burgers wat dinge op die regte manier probeer doen, maar as dinge so aangaan sal ons noodgedwonge tot onwettige aksies moet oorgaan."
Vorige artikels:
- Opvolg: Burgemeester gaan met inwoners gesels
- Opvolg: Dag 2 van die protes
- Graaff-Reinet inwoners dring aan op publieke deelname
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'