Gallery
GRAAFF-REINET NUUS - Die Graad 11 Lewenswetenskap-leerders van die Asherville Sekondêre Skool in Graaff-Reinet het verlede Woensdag die Camdeboo Nasionale Park besoek.
Vir van dié leerders was dit hul eerste besoek aan dié besienswaardigheid.
'n Pragtige, soel lentedag het hierdie uitstappie vir die leerders uiters aangenaam gemaak.
Deel van die voorgeskrewe leerinhoud vir Lewenswetenskap is juis Omgewingstudies, oorgeskryf vir die derde kwartaal - en kon die leerders dus hul teoretiese kennis met vele praktiese en lewende voorbeelde uit die pragtige natuur staaf.
Een van die park se beamptes, Rosemary Scheepers, het haar goed van haar taak gekwyt met die oordra van haar kennis.
Die natuur het pragtig vertoon, duidelik "skoongewas" van die vorige naweek se reën en sneeu wat die omliggende bergpieke bedek het.
Die besoek aan die Vallei van Verlatenheid en die park, wat die Nqwebadam insluit, beskik oor genoeg praktiese voorbeelde om die liefde vir dié leerarea beslis meer aan te wakker.
Loy Bosch, die leerders se Lewenswetenskap-vakonderwyser en Belinda Botha, die skool se Toerisme-leerkrag, het die leerders vergesel.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'