RUBRIEK - Oom Klaas sit geduldig en luister na my tirade oor hoe duur alles oornag geraak het; hoe elkeen net spook om kop bo water te hou. Ek bevraagteken my lewensloop, my keuses en my vermoëns.
Ek wens ek kon beter vir my gesin voorsien sodat ons almal bymekaar kon wees. Leeg gepraat, meet-meet Oom Klaas my met sy oë.
"Raad het ek nou nie vir jou nie. Maar kom ek vertel jou eerder 'n storie vanoggend. Van 'n ander klong wat lank voor jou geleef het. Hy was 'n blêrrie goeie leier, voorsiener en soldaat soos min. Tewens, hy was die grootste veroweraar van die antieke wêreld. Op 20 was hy 'n koning en teen die tyd dat hy op 32 oorlede is, het hy vele dodelike slagveldwonde oorleef en was daar min in die wêreld wat nie van hom gehoor het nie; sy skatte en rykdom oorvloedig. So goed was hy dat hy tot vandag toe bekend is. Sy persoonlike leermeester was een van my gunstelinge: Aristoteles.
"Groot behoort die verwondering dan nie te wees dat hy nie net 'n uitsonderlike lang doodsasem gehad het nie, maar boonop drie besonder vreemde doodswense daarby. Tydens sy laaste siekbed van twee weke, het hy sy generaals ingeroep toe hy besef tyd raak min. Seg toe vir hulle om vir hom drie dinge te doen wanneer sy tyd op is. Eerstens moet slegs die dokters wat hom die afgelope tyd behandel het, sy kis na sy graf dra. Niemand anders nie. Tweedens moet die generaals sorg dat al sy skatte en rykdom wat hy in sy lewe vergader het, langs die pad op pad graf toe uitgestal word. En derdens moet die generaals seker maak dat sy hande alkant van die kis uithang wanneer hy nou so graf toe gedra word ten aanskoue van al wat leef en beef.
"Die generaals het geluister en seker ook maar besef hulle geliefde koning se brein is koorsbeneweld. Een van hulle gaan toe later terug om te loop seker maak hulle het reg verstaan. Die koning-klong bevestig toe sy wense, maar besef hy moet verduidelik, want dit klink half vreemd.
"Hy sê toe hy wil vir oulaas sy lewenslesse deel. Een: as dit jou tyd is, sal g'n dokter jou gered kry nie – selfs die beste dokters kan maar net toekyk wanneer die dood intree. Twee: geen aardse gemak of rykdom of besittings sal jy saam met jou neem die dag wanneer jy op pad is graf toe nie: alles wat jy op aarde het, sal agterbly terwyl jy graf toe gaan. Drie: Met leë hande kom jy die lewe in. Met leë hande gaan jy die lewe uit."
Oom Klaas meet my weer met sy oë. "A...Lex...anderrrr!!!" laat dreun hy my naam. "Sien, jy behoort van die klong te weet. Ek het jou vertel van Alexander van Masedonië, oftewel Alexander die Grote. Hy het al daai jare terug klaar bewys jy kan alle skatte versamel en letterlik die hele wêreld verower, maar jy bly steeds net op geleende tyd op hierdie aarde.
"Jy sal krag na kruis ontvang. Voordat jy sit en wonder oor wat NIE is nie, aanvaar wat IS. Een: koop die tyd uit met jou huismense. Twee: pas dit wat julle het, jaloers op. Drie: Spandeer spaarsamig, maar spaar geen tyd om skatte van skitterende samesyn te versamel nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’