GRAAFF-REINET NUUS — Die Khaya Lam-grondhervormsingsprojek, wat armes help om titels vir hul huise te bekom, het onlangs begin om titelaktes aan inwoners van Graaff-Reinet oor te dra.
Een van die begunstigdes, die 101-jarige Dumalisile Gwampi, het sopas eienaarskap van sy huis in Topstraat, Umasizakhe gekry.
Gwampi, wat in April sy 102de verjaarsdag sal vier, is tot op hede een van die oudste begunstigde van die projek en vir hom is dit 'n groot vooreg om te kan sê dat sy huis waarin hy reeds jare woon - hoe beskeie dit ookal mag wees - nou uiteindelik werklik sy huis is.
Gwampi, wat nog op dié gevorderde ouderdom in goeie gesondheid is behalwe vir sy sig wat weg is, bly reeds 20 jaar by die adres en is hy verheug oor die feit dat hy nou aan sy sewe kinders en 14 kleinkinders die nalatenskap kan los.
Khaya Lam - wat 'My Huis' beteken - is in 2013 deur die Vryemarkstigting (VMS) gestig om mense te help om regerinsghuise waarin hul woon, se titelaktes aan hulle oorgedra te kry.
Daar is reeds tot op datum oor 'n 1000 huise se titelaktes in onder andere die Vrystaat oorgedra en leef die projek nou in Graaff-Reinet se midde voort.
Tydens die bekendstelling van dié projek einde verlede jaar, waar daar dan ook 'n ooreenkoms met die plaaslike munisipaliteit in dié verband onderteken is, het Perry Feldman, projekbestuurder, gemeld dat daar beoog word om altesaam 500 titelaktes in Graaff-Reinet te oorhandig.
'n Afvaardiging van die projek sal Graaff-Reinet weer later in Februarie besoek om verder werk te maak hiervan.
Diegene wat graag meer inligting oor die proejk wil bekom, kan die Vryemarkstigtig se webwerf by www.freemarketfoundation.com besoek.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'