Johan Coetzee van Graaff-Reinet:
Geagte dokters en personeel van Midland Hospitaal, Graaff-Reinet
Hiermee wil ek graag van die geleentheid gebruik maak om my opregte dank aan u almal oor te dra vir die uitstekende diens en sorg wat ek op 9 November 2024 ontvang het.
Omstreeks 12:30 die middag het ek 'n ernstige ongeluk met 'n slypmasjien (grinder) beleef, wat amper my lewe geëis het.
Dit is slegs deur die genade en beskerming van ons Hemelse Vader dat ek hier is om hierdie brief te skryf - 'n ware wonderwerk waarvoor ek alle eer aan God gee. Hy was my rots deur die hele proses.
By Midland Hospitaal is ek met ope arms ontvang deur die toegewese "A-span" skof. U vinnige optrede, professionele sorg en empatie het my in hierdie traumatiese oomblik ondersteun en my ongemak draagliker gemaak. Elke lid van die span het my diep beïndruk, en ek kan nie genoeg woorde vind om my dankbaarheid uit te druk nie. Ek glo vas dat God u almal oor my pad gestuur het.
Dankie dat u altyd met toewyding en opoffering diens lewer aan die gemeenskap. U harde werk en onbaatsugtige sorg maak 'n beduidende verskil in die lewens van diegene wat by u aanklop in hul uur van nood.
Weet asseblief dat ek en my gesin u onmeetlik waardeer. Ons dra u op in ons gebede en wens u sterkte toe met die kosbare werk wat u elke dag doen.
Met opregte waardering.