Etiese jagter, Cradock:
Dis weer jagseisoen, en oral klap die skote. In die meeste gevalle is dit goedbestuurde, beheerde jagte, op geregistreerde wildplase met permitte en alle nodige opleiding, geriewe en kontrole soos wat 'n mens sou verwag van enige toerisme-instelling in Suid-Afrika.
Maar, dan is daar ook die swart kant van elke jagseisoen. Hierdie jagters boek nie in by Safari-gastehuise of op wildplase nie. Daar is geen kontrole oor wat hul jag, waar hul dit jag, waarmee hul jag en hoe daar gejag word nie. Daar is ook geen waarskuwing dat hul in 'n omgewing is nie. Geslote hekke, donkerte, wildwerende heinings, onbegaanbare paaie en voetslaan demp nie hul ywer nie. Hul word deur hul vleis- en skietlus bestuur en daaroor is daar ook geen beheer.
Dit is hierdie jagters wat jaginstellings, plaas- en wildplaaseienaars se moed breek, hulle woedend maak en tot gevolg het dat elke persoon met agterdog benader word.
Wie skiet 'n braunviehkoei netjies in die kop, waar sy rustig in 'n kamp langs die pad wei, met haar driemaande oue kalfie? Dié jagter was verras toe hy die vrug van sy sneller sien, want die ligbruin koei is toe bloot 'n bees, nie 'n eland, soos wat hy klaarblyklik vermoed het in die duister ure van die nag nie. Hy laat haar net daar, en daar by haar lyk word haar kalfie die volgende dag, al roepend gevind.
Watter hartelose 'jagter' skiet 'n takbok-trofeeram, met groot horings en slag dit netjies af, maar neem net 'n boud en 'n blad, en laat die oorblywende vars vleis net so lê - kraaikos? Dis hoe die takbokram eventueel gevind word. Die kraaie wat in die lug draai is 'n duidelike aanwysing dat daar dooie vleis in die veld lê. Dit, terwyl duisende gesinne in ons land smag na 'n stukkie vleis, al is dit net een maal per week.
Dan is daar ook die ongewapende jagter wat eenvoudig 'n strik stel, en dan so een keer per week by dié strik 'n draai gaan maak. 'n Strik is 'n draadkontrepsie wat vir die dier onsigbaar is, en veral vlugvoetige diere land maklik in die strik. Hoewel dié gebruik net so onwettig is soos die diefstal van vleis, kom die gebruik nog algemeen voor. 'n Dier wat in 'n strik vasval, word letterlik in die draad van die strik vasgetrek, en dit bly steeds lewe. Vir dae spartel die bok, en daar is vanselfsprekend geen kos of water beskikbaar vir die dier nie. Soms word selfs plaasdiere in strikke vasgetrek, kalwers, skape, soms selfs 'n haas of huiskat, totdat dié jagter eventueel sy prooi kom haal.
Dit is die swart kant van die jagseisoen, ja, maar dikwels kom hierdie vorm van dieremoord regdeur die jaar voor.