Johan Maree, AGL Bemarking, Voortrekkers Kaapland:
Gedurende die week van 9 Julie het meer as 500 Voortrekkerlede op die pragdorp, Graaff-Reinet, toegesak. Die rede: die Voortrekkers se vierjaarlikse kongres. Ek was deel van die reëlingskomitee en reeds met die voorafbesoeke, maande terug, het ons besef hier gaan dinge vlot verloop.
Om 'n kongres te reël 700 km plus van jou af, is nooit maklik nie. Maar hier was dit glad nie die geval nie.
Ons het agtergekom ons werk met mense wat omgee, mense met warm harte en mense wat hardwerkend is.
Graaff-Reinet-mense wat saamstaan, saamwerk en geen moeite ontsien om jou verblyf en ondervinding onvergeetlik te maak nie. Die feit dat Graaff-Reinet genomineer was vir Kwêla se dorp van die jaar in 2022, is nie vir my snaaks nie, wat wel vreemd is, is dat julle nie gewen het nie!
Dankie aan die skoolhoofde, koshuispersoneel, kerkraad van die 'Groot Kerk', gasvrye koshuise van Laer en Hoër Volkskool en Union. Veral dankie aan die "Hoofman oor 100", Johan Nieuwoudt en sy vrou Verna vir al hul tyd, moeite en energie. Niks was ooit te veel gevra nie.
Ek het ongelukkig nie veel tyd gehad om te ontspan nie, maar ek kom beslis weer, hierdie keer om net te ontspan en jul mooi dorp en omgewing te verken en geniet.
Dankie Gawe Graaff-Reinet!