Twee Anonieme Avonturiers:
Ons is 'n afgetrede egpaar wat die land met ons karavaan deurreis en graag besienswaardighede besoek. Ons kom dus op baie plekke en sien baie dinge.
Nog onlangs het ons by 'n koffiewinkel in 'n Vrystaatse dorpie die bekende kennisgewing opgemerk met die drie apiegesiggies en die gesegde daarmee saam, "Hear no evil, see no evil, speak no evil".
Met groot opwinding pak ons toe die reis na Graaff-Reinet aan, want ons het al dikwels deur die historiese dorp gery, gewoonlik op Sondae, en ons het ook al by die Camdeboo Nasionale Park oornag. Maar ons het besluit hierdie besoek aan Graaff-Reinet gaan gebruik word om bietjie die geskiedkundige geboue te besoek. Die Reinet-huis was ook ingereken by ons planne. En voorwaar, daar sien ons vir die heel eerste keer hierdie nuwe tekens, en dis nie drie apies nie, maar drie mensies!
Die boodskap, hoe sal ek nou sê, is moeilik om in goeie Afrikaans te herhaal. Maar ek aanvaar dit beteken min of meer, "Geen Spoeg, Geen Poep, Geen Pie!"
Sou dit dan nou hier in dié pragtige dorp gebeur dat mense voor die gedenkwaardigheid hierdie tipe toiletgedrag uitoefen. Hoe tragies is dit, dat dit wat soveel jare met soveel sorg en waardigheid versorg word, nou deur 'n kennisgewing van hierdie formaat ontsier moet word, en ek glo toeriste van oraloor besoek die pragtige plek.
Maar, ons kom in baie klein dorpies, en dit is waarlikwaar 'n skande dat publieke toilette nie meer vir die publiek bruikbaar is nie. So is daar in 'n klein dorpie, nie ver van Graaff-Reinet, 'n pragtige pienk kerk, en twee straatblokke verder 'n pienk publieke toiletgebou, maar daar is geen toilet, geen water, geen dak en geen deur aan daardie publieke toilet meer nie. Dis heel moontlik die rede hoekom ons nou voortaan seker meer van hierdie tekens in die Oos-Kaap sal opmerk.
In die Vrystaat het dit onlangs gebeur dat ons ook 'n geriefie moes gaan opsoek, en nadat ons ons pennies in 'n slotstelsel gedruk het, is ons deur twee stelle rooi veiligheidshekke, en 'n rondomtalie hek, voordat ons by die geriefie uitgekom het. Die geriefie was bruikbaar, maar nie heeltemal op die standaard wat mens sou verwag met soveel sekuriteit daar rondom nie. Maar ons het die lang pad darem weer gemaklik, gerieflik en verlig aangepak.
Sterkte Reinet-huis, ons glo en vertrou dat die teken duidelik verstaan word deur die oortreders.