Sarie Pretorius sê dankie aan tehuis.
Ek wil graag my opregte dank oordra aan die Elizabeth Jordaan-tehuis in Cradock. Ek woon al vir 'n geruime tyd in die tehuis en die afgelope Saterdag se lentemarkdag was vir my die hoogtepunt van al my jare hier.
Dit was werklikwaar vir my so 'n geseënde geleentheid. Die baie besoekers het heerlik saam met ons ou klomp gekuier en almal het alles geniet wat hier op ons pragtige terrein aangebied is.
Niemand was suur of ongelukkig nie en geeneen het met leë hande hier aangekom of hier weggestap nie. Natuurlik was die musiek uit die boonste rakke en die braaivleis en poedingtafels was vir ons die grootste bederf ooit. Aan die braaiers wil ek sê: "Uitstekend! Welgedaan!"
Dan wil ek namens al die inwoners dankie sê aan Conrad, ons kok en sy helpers, wat te alle tye vriendelik en behulpsaam is. Dieselfde woorde gaan ook aan die bestuur, beheerraad, ACVV en personeel.
Ek kan my Hemelse Vader nie genoeg dankie sê vir sy groot genade en seëninge wat my hier te beurt val nie. Ook aan almal, veral die gemeenskap van Cradock wil ek sê: "Dankie dat jul ons nie vergeet nie en dankie vir jul bydraes en hulp, nie net met die groot dae nie, maar elke dag."
- Sarie Pretorius
Beste Sarie, ons plaas graag jou bedankingsbrief aan Elizabeth Jordaan-tehuis omdat dit vir jou so baie beteken het. Ons is bly jy het die dag so baie geniet. Groete, Graaff-Reinet Advertiser