NASIONALE NUUS - Die Robertson-wynvallei se 11de jaarlikse Wine on the River-fees vind plaas vanaf 14 tot 16 Oktober langs die Breederivier op die plaas Goudmyn, langs die R317 tussen Robertson en Bonnievale.
Hierdie wynfees bied 'n naweek vol aktiwiteite vir die hele gesin. Kom baljaar in die son, luister na die klanke van jazz en blues, verken kuns- en kunsvlytstalletjies, geniet plaaslike wyne en smul aan plattelandse kookkuns wat gemaak word met bestanddele uit die omgewing. Die gewilde Viljoensdrift-rivierbootrit bied ontspanne rivierritte vir die hele gesin ten bate van die Breede River Hospice.
Die gewilde Sanlam Duck Derby vind ook weer vanjaar plaas. Die opbrengs van hierdie inisiatief is ten bate van die Bonnie-People Project in Bonnievale wat inwoners van die informele nedersetting help met volhoubare bouwerk en ontwikkeling in hul gemeenskap.
Met wyne wat teen kelderpryse aangebied word, is die fees die ideale geleentheid om jou voorraad gunstelingwyne uit die Robertson-wynvallei aan te vul en om persoonlik met die wynmakers te gesels en deel te neem aan voorafbespreekte opvoedkundige wynproegeleenthede.
Robertson-wynvallei ondersteun die verantwoordelike verbruik van wyn. As deel van ons verbintenis tot die aanbieding van 'n veilige fees, sal 'n geen-toleransie-benadering teenoor dronkbestuur gehandhaaf word.
Om verantwoordelike wynproe te ondersteun, is gratis pendeldienste beskikbaar vanaf sentrale punte in die omliggende dorpe Robertson, Bonnievale en Montagu, na die feesterrein. Kaartjiepryse kos tussen R80 en R250 met gratis toegang vir kinders onder 18 en spesiale pensioenaris-tariewe. Bespreek kaartjies vooraf by www.webtickets.com. 'n Spesiale aanbod vir feesgangers wat vroeg bespreek is beskikbaar tot 30 September.
Kaartjies is ook oor die naweek by die ingang beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'