Gallery
GHOLF NUUS - 'n Groep manne van Blanco met 'n groot liefde vir gholf het in 2015 hul gewig saam gegooi om 'n informele klub te vorm wat hulle in staat stel om self gholf te speel.
Die klub, Divots and Drinks, kry meer en meer ondersteuning - soveel so dat hulle kon begin teruggee aan die gemeenskap.
Wat hierdie storie besonders maak, is dat die meeste van die stigterslede uit die voorheen benadeelde gemeenskap van Blanco kom.
Hul liefde vir gholf is op die setperke van Fancourt gebore, waar baie van hulle as gholfjoggies gewerk het, maar om self gholf te speel was nie vir almal finansieel haalbaar nie.
Eendrag maak mag, lui die spreekwoord. Die manne het begin saamwerk, onverpoos geld ingesamel en in 2015 kon hulle hul eerste toer na Stellenbosch onderneem, waar hulle op drie bane gespeel het.
Divots and Drinks bestaan tans uit 20 lede en hou maandeliks toernooie op bane in die Tuinroete, waar daar gereeld 'n nuwe kampioen gekroon word.
Diens aan die gemeenskap
Maar die manne het nie hul wortels vergeet nie. Baie bewus van die behoefte in die Blanco-gemeenskap, het die bestuur besluit om opheffingswerk te doen en Divots and Drinks ondersteun nou verskillende welsynprojekte by Kretzenshoop Primêr, waaronder die skenking van skoolskoene, sanitêre produkte vir dogters en 'n voedingskema.
'n Paar besighede, Pollock's Pizza in Blanco, Sean Farrell Vodacom en Shell Kraaibosch, het ook by die klub betrokke geraak om te help met skenkings vir die onderskeie projekte.
In 'n onlangse projek het lede van die klub op eie onkoste 'n pretdag by die Blanco-sportterrein gehou, waar 'n rugbywedstryd tussen Blanco United en Groot-Brak-rugbyklub 'n hoogtepunt was.
Kinders kon ook gratis deelneem aan 'n verskeidenheid speletjies en al die kinders is bederf met stokkielekkers, springmielies, koeldrank en Niknaks.
Dit was 'n dag wat hopelik lank sal leef in die harte van die kinders van beide Blanco en Groot-Brak wat die dag meegemaak het. Enigiemand wat by die groep betrokke wil raak of graag 'n skenking wil maak kan die groep via hul Facebook-blad, Divots and Drinks, kontak.
FOTOGALERY: Divots and Drinks gee terug
Lede van die groep by die pretdag wat hulle onlangs aangebied het. Agter, van links is Angus Roelfse, Deodat Willemse, Grant November, Evan Davids (voorsitter), Reagan Williams, Anand Naik en Elmar Campher. Voor: Patrick Figeland, Alrique Campher, Lindley Vergotine, Merlyn Buys en Ricardo Jansen. Afwesig: Wesley May, Graham Lottering, Locadio Pietersen, Heinrich Micheals, Kayloe Johnson, Henklin Adams en Denzil Muller.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’