Update
STEYTLERVILLE NUUS - Graaff-Reinet Advertiser het in Januarie berig oor die waterkrisis in Steytlerville (Steytlerville se krane is droog, 23 Januarie 2025), en in reaksie op inwoners se klagtes, het Dr Edward Rankwana, munisipale bestuurder van die Dr Beyers Naudé Munisipaliteit, op 19 Februarie ‘n kennisgewing uitgereik om sy plan van aksie uiteen te sit.
Rankwana het bevestig dat probleme met die kragtoevoer en boorgatmotore in Erasmuskloof 'n geweldige impak op Steytlerville se watertoevoer het en dat herstelwerk noodsaaklik is.
Rankwana het gesê dat 'n munisipale span, in samewerking met 'n privaat diensverskaffer, die afgelope paar weke uitgebreide toetse gedoen het om die kragtoevoer aan te spreek.
Toetse het getoon dat elektriese fluktuasies onreëlmatig is en dat dit die boorgatmotore beïnvloed, wat gevolglik die watertoevoer belemmer.
Onderdele word vervang
Die munisipaliteit het onderneem om tussen 25 en 27 Februarie die nodige meganiese en elektriese onderdele vir die motore te kry en te installeer. Daarbenewens sou die bestaande elektriese infrastruktuur deeglik hersien word om vas te stel watter opgraderings nodig is om die kragtoevoer te stabiliseer.
Raadslid Daniël Bezuidenhout het Dinsdag 25 Februarie bevestig dat die manne wat die watertoevoer moes herstel wel opgedaag het.
“Die pompe word môre (Woensdag) laat sak en dan sal ons sien of alles werk,” het hy gesê.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’