GRAAFF-REINET NUUS - Die voortslepende waterkrisis in Steytlerville is besig om die hele gemeenskap op hul knieë te dwing.
"Die watersituasie is so sleg dat ek nie eens weet waar om te begin om dit te beskryf nie," het Raadslid Daniël Bezuidenhout op 14 Januarie gesê.
"My gekla en die burgemeester se beloftes het sovêr geen verbetering teweeg gebring nie."
Volgens Bezuidenhout het die dorp darem gedurende Desember in die oggend water gehad.
"Hier oor Kersfees was daar darem water maar dit was net van 05:00 tot 09:00 in die oggend.
Teen 09:00 is dit afgesit en dan het daar niks aangegaan tot die volgende oggend nie. Dis hoe ons water gekry het oor die vakansiedae.
"Maar vandag is daar geen water nie," het hy gesê.
Meestal sonder water
Sedert hierdie gesprek met Bezuidenhout was Steytlerville die meeste van die tyd heeltemal sonder water en op hierdie stadium is die gemeenskap besig om alle geduld te verloor. "Die watersituasie in Steytlerville is onuithoudbaar!
Dit is nou al meer as vyf jaar van soebat en smeek, leë beloftes en verskonings. Ons is moeg!" sê Hanli Buber van Steytlerville se inwonersforum.
"Die watertekort is nie as gevolg van droogte nie, dit is die gevolg van nalatigheid en 'n gebrek aan instandhouding.
Die Erasmuskloof-waterstelsel vereis onmiddellike en ononderhandelbare ingryping want die inwoners van Steytlerville het 'n fundamentele reg op water. Hoe gaan die munisipaliteit hierop reageer?"
Burgemeestersbesoeke
Op versoek van Bezuidenhout het die burgemeester van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit, Willem Safers, die dorp Woensdag 15 Januarie besoek om die situasie te assesseer, "Die burgemeester was baie onsteld omdat daar geen water is nie en het belowe om die probleem dringend aandag te gee, maar teen Dinsdag 21 Januarie was die situasie nog onveranderd," sê Bezuidenhout.
Hy bevestig dat die probleem inderdaad by die waterstelsel in Erasmuskloof lê. "Ek het al 'n video vir die burgemeester en die direkteur van infrastruktuurdienste, Bennie Arends gestuur om te wys hoe die water by die pomp se seël uitloop.
Daar loop letterlik strome water uit," sê hy.
"Die pomp is nou al hoe lank stukkend en ek het dit nou al telkemale rapporteer. Die burgemeester was al 'n paar keer hier op Steytlerville en hy het belowe dat die ding reggemaak sal word, maar daar het nog niks gebeur nie.
Die feit van die saak is dat daar nog steeds geen water van die Erasmuskloof af kom nie, want die een pomp is stukkend en die ander pomp is by die kontrakteur wat daar gewerk het," sê hy.
Muni skuld kontrakteur geld
Die kontrakteur weier glo om die pomp te kom terugsit omdat die munisipaliteit hom geld skuld. Bezuidenhout voeg by dat die sifpomp wat die water na die pomp toe moet druk ook verstop is en dat daar daarom nie genoeg water by die pomp uitkom nie.
Dit wat wel daar uitkom word vermors as gevolg van die lekkasie.
Volgens Bezuidenhout was hy sedert Safers se besoek verlede Woensdag deurlopend met hom in kontak, maar teen Dinsdagoggend was die kontrakteur nog nie op terrein nie.
Bezuidenhout het die gemeenskap Dinsdagmiddag in kennis gestel dat 'n afvaardiging van die munisipale bestuurder, Dr Edward Rankwana, se kantoor, gister, Woensdag, 22 Januarie, besoek aan Steytlerville sou aflê om die pad vorentoe te bespreek.
"Wat ek verneem is dat die tydlyn wat die munisipaliteit gestel het om die probleem op te los nie haalbaar gaan wees nie," sê Bezuidenhout. "Dit sal 'n groot storie wees as ek vir die mense sê wat die munisipaliteit beplan en dan gebeur dit nie, so hulle moet maar self kom sê wat hulle gaan doen."
Teen druktyd was daar nog geen terugvoer oor die vergadering met Rankwana se delegasie nie, maar Graaff-Reinet Advertiser kon wel bevestig dat Steytlerville steeds sonder water was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’