Update
KAROO NUUS - Die twee mans wat Dinsdag 2 Mei naby Graaff-Reinet na ‘n jaagtog in hegtenis geneem is vir die onwettige besit en vervoer van miljoene rande se perlemoen, is volgens Danie Keet van die burgerlike organisasie, Community Against Abalone Poaching (CAAP), reeds vir jare die leiers van ‘n perlemoenstropernetwerk in die Wes-Kaap.
Keet het aan die Afrikaanse radiostasie, RSG gesê, Frank Daniël Barends (51) en Mannetjie Kerneels Chaka (47) van Kaapstad beweeg glo al geruime tyd onder die radar in die Weskaap, en het onlangs uitgewyk na die Oos-Kaap waar grootskaalse perlemoenstropery nou aan die orde van die dag is.
Die twee mans is aangekeer nadat ‘n verdagte Porsche Cayenne met ‘n sleepwa en Toyota Camry Dinsdagaand deur die Cookhouse-hoofwegpatrollie onderweg van Kariega in die rigting van Graaff-Reinet opgemerk is. Die polisie was glo op die uitkyk vir die verdagtes na ‘n wenk ontvang is.
Hulle is agtervolg en kort voor Graaff-Reinet vasgetrek. Byna 9 400 eenhede perlemoen is in die voertuie en sleepwa gevind.
Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, kol. Priscilla Naidu het bevestig dat Barends en Chaka vanoggend, 4 Mei in die landdroshof in Graaff-Reinet verskyn het en in aanhouding bly tot 11 Mei vir ‘n formele borgaansoek.
Die twee mans het glo tydens ‘n vorige hofverskyning op ‘n tegniese punt losgekom.
Mannetjie Kerneels Chaka (47) Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’