Update
STEYNSBURG NUUS - Agt ton mediese afval is verlede Woensdag, 29 Maart, deur 'n mediese afval-opruimingsmaatskappy van Kaapstad by 'n verlate huis in Steynsburg verwyder.
Dit blyk dat die gevaarlike, toksiese afval spruit uit die onlangse inentingsveldtog teen masels wat landwyd deur staatsklinieke van stapel gestuur is.
'n Klag is deur VF Plus se plaaslike verteenwoordiger, Jaco Burger, by die Steynsburg-polisie ingedien. Steynsburg, 113 km suid van die Gariepdam en sowat 200 km noord van Graaff-Reinet, val in die ANC-beheerde Walter Sisulu-munisipaliteit. Die dorp beskik oor geen privaat geneespraktyk nie en die staatshospitaal en -klinieke is die enigste plekke waar mediese dienste beskikbaar is.
"Dit het onlangs onder die VF Plus se aandag gekom dat daar op die hoek van Voortrekker- en Van der Waltstraat in die dorp by meer as een geleentheid rommel by 'n bouvallige huis gestort word," sê Jaco Burger.
Die afval sluit in gebruikte inspuitings en naalde.
Alle mediese afval word geklassifiseer as bio-gevaarlike afval en word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gedefinieer as "afval wat gegenereer word binne gesondheidsorggeriewe, navorsingsentrums en laboratoriums wat met mediese prosedures verband hou".
Die onwettige stortings is in 'n gebied waar kinders skool toe stap en speel.
Burger het ook die aangeleentheid onder die aandag van die Oos-Kaap LUR vir gesondheid, Nomakhosazana Meth gebring en by die inspektoraat vir omgewingsbestuur aangemeld.
Die publiek word versoek om enige onwettige storting van enige mediese afval, hoe gering ook al, dadelik by die Groen Skerpioene by 0800 012 322 of 0800 205 005 aan te meld.
Vorige artikel: Tonne mediese afval gestort
Die afval het gebruikte naalde en spuite ingesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’