Update
MURRAYSBURG NUUS - Inwoners van Murraysburg en die ganse Karoo is verslae nadat die sagmoedige eienaar van die enigste slaghuis in die dorp Sondagoggend, 25 Augustus, vermoor is.
Sy huis en slaghuis is ook deur die aanvallers aan die brand gesteek en heeltemal verwoes.
Die 79-jarige Piet Retief is met staal-draad buite sy huis vasgemaak en toe doodgeslaan.
Sy eggenote, Christle, is ook vasgemaak en aangerand, maar het daarin geslaag om alarm te maak.
Sy is in die hospitaal behandel, maar is reeds ontslaan.
Peet de Klerk, 'n naby vriend van Retief, sê die egpaar is buite hul huis reg langs die slaghuis oorrompel, waarna hul huis en besigheid aan die brand gesteek is.
Een van die verdagtes het binne die woonhuis doodgebrand, terwyl die ander medepligtiges nog teen Woensdagmiddag, 28 Augustus, op vrye voet was.
Dit is nie op die stadium duidelik hoeveel aanvallers betrokke was nie, want Christle was geweldig getraumatiseer na die aanval, maar daar kan soveel as drie ander verdagtes wees.
Kort na die aanval het die hele gemeenskap ingespring om die brand te blus, maar beide die slaghuis en woonhuis is in puin gelê.
Die plaaslike gemeenskap, asook vriende en familie van Loxton, Beaufort-Wes en Graaff-Reinet, het Dinsdagmiddag teen skemer tydens 'n huldigingsplegtigheid by die aanvalstoneel kerse vir Retief gebrand.
Kleingeld kon iets koop
In 'n huldeblyk het Julian Dampies, 'n vriend en buurman van die Retief-egpaar, gesê dat hierdie wrede aanval op 'n geliefde inwoner, wat net liefde en vrede in die hele gemeenskap gesaai het, alle inwoners met groot hartseer laat.
Angeline Renoster vertel dat Oom Piet altyd gesorg het dat daar bekostigbare aankope vir die skoolkinders by die slaghuis was, wanneer hulle met kleingeld iets wou koop.
Benita Lakay het haar skok op sosiale media gedeel en vertel dat Oom Piet die beste worsmaker was. "My hart is aan skerwe vir sy vrou en sy kinders en kleinkinders."
Elizabeth Matthews onthou die egpaar as vriendelik en saggeaard en bestempel die voorval as uiters tragies.
Die Advertiser kon nog nie met Retief se naasbestaandes 'n onderhoud voer nie omdat hulle besig was met die reëlings vir Dinsdagaand se byeenkoms en Woensdag Beaufort-Wes toe moes reis om sy liggaam uit te ken. Hulle is ook oorval deur medianavrae.
'n Vriendin van die familie het genoem dat Retief se weduwee, Christle, vir 'n tyd by haar dogter, Liesel Looch, op 'n plaas tussen Graaff-Reinet en Cradock sal tuisgaan.
Die polisie ondersoek klagte van moord, aanranding, brandstigting en huisbraak.
Kontak sers. Siphokazi Mafuya by 082 559 4718 met inligting.
Vorige artikel: Eienaar vermoor, slaghuis afgebrand
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’