Video
MURRAYSBURG NUUS EN VIDEO - Die enigste slaghuis op Murraysburg is Sondagmiddag afgebrand, nadat die eienaar, Pieter Retief (78 jaar) met staaldraad vasgemaak en doodgeslaan is.
Sy eggenote, Crystal, is ook vir twee ure vasgemaak, voordat sy haarself kon bevry en ontsnap.
Daar word op die stadium vermoed dat die egpaar oorrompel is toe hulle buite die besigheid was, volgens Peet de Klerk, inwoner en vriend van die Retiefs.
Na die brandstigting het een van die verdagtes ook binne die aangrensende woonhuis doodgebrand.
Die seun van hierdie verdagte, wat vermoedelik ook medepligtig was, is in hegtenis geneem, terwyl drie ander medepligtiges nog op vrye voet was teen Sondagaand.
‘n Groot deel van die gemeenskap is in opstand oor die moord en brandstigting en het buite die gebou hulle misnoë te kenne gegee, terwyl sommige van die verdagtes glo nog binne die gebou was en die eienaar reeds dood was.
VIDEO | Die huis het ook afgebrand, video van facebook
Plaaslike sakeman, Paul Avenant, het getuig dat die hele dorp vandag in skok en in rou gedompel is en dat die dorp doodstil en beswaard is na die dood van hierdie bekende in hulle geledere.
“Hier ken ons almal mekaar, en die gebeure raak ons almal diep.”
Die landbougemeenskap het ingespring met die munisipaliteit se tenker en ‘n waterpyp gebruik om die vuur te blus, terwyl jonger boere gehelp het om uit te dra wat hulle kon red.
Die Retief-egpaar se aardse besittings is egter grootliks verwoes.
Vier hommeltuie is ook gebruik om die verdagtes te probeer opspoor.
Murraysburg val onder die distriksmunisipaliteit van Beaufort-Wes, en die burgemeester van Beaufort-Wes, Sias Reynolds en die adjunk-burgemeester, het vandag na Murraysburg deurgereis om die toneel te besoek en simpatie aan die naasbestaandes te betoon.
‘n Polisieverklaring van Kolonel André Traut is aangevra, maar is nog nie beskikbaar nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’