Update
ABERDEEN NUUS- Saterdagoggend, 26 November, omstreeks 08:00 is die soektog na die vermiste Herold Booysen (15) hervat. Polisiespanne in Aberdeen en Graaff-Reinet koördineer die soektog en die honde-eenheid uit Gqeberha word later vandag verwag.
Die Aberdeen-koördineerder het bevestig dat daar weer uitgegaan sal word na die plaas waarvandaan die seun geloop het.
Die seun is moontlik in die Graaff-Reinet plaasdistrik; derhalwe sal die soektog in daardie rigting uitgebrei word. Ongunstige weerstoestande belemmer egter lugsoektog op hierdie stadium.
Volgens Jonathan Windvoël, die pa van Herold Booysen, is sy seun skaam en nie ten volle in staat om met vreemde mense te kommunikeer nie.
"Sy kop werk nie altyd so lekker nie en dan raak hy maar so aan die loop, maar hy het nog nooit so lank weggebly nie," sê Windvoël.
'n Duidelik bekommerde en uitgeputte Windvoël sê hy self soek al van Woensdagaand af na sy kind. Hy bly egter vol hoop en vermoed nie gemenespel nie.
"Hy sal deurmekaar wees; ons moet die kind nou net kry, want dít raak lank."
Jonathan Windvoël en Melody Booysen (suster van Herold) by Aberdeen Polisiestasie
Vorige artikel: 15-jarige vermis
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'