ABERDEEN NUUS - 'n 15-jarige seun is Woensdagoggend laas gesien op 'n plaas in die Aberdeen distrik waar hy, sy suster en sy pa woon.
Die seun het aangedui dat hy dorp (Aberdeen) toe sou stap. Hy is sedertdien nog nie weer terug op die plaas opgemerk nie.
"Herold Booysen en sy pa het 'n hegte verhouding en Herold gaan loop dikwels, maar kom altyd weer terug na sy pa toe," sê 'n naby kennis (wat anoniem wil bly) van die gesin. Die seun se ma is 'n paar jaar gelede oorlede.
Volgens die vermiste persoon navraag wat vanoggend by die Aberdeen polisiestasie geopen is, loop Booysen dikwels die ongeveer 25km dorp toe, maar hy keer sonder uitsondering dan die volgende dag weer terug plaas toe, na sy pa toe. Hierdie keer is die heel eerste keer dat hy so lank weg is. Dit blyk dat die seun se pa reeds gister al begin soek het na die seun en die polisie in kennis gestel het.
Dieselfde kennis van die gesin sê: "Die polisie hier in Aberdeen is werklik goed". Hy bevestig dat die plaasmense en die polisie vandag alreeds gesoek het na die seun.
Die plaaslike polisie het ook bevestig dat daar môreoggend (26 November) vanaf 08:00 weer 'n soekgeselskap uitgestuur sal word en dat die honde-eenheid vanaf Gqeberha ook by die soektog sal aansluit.
Die Graaff-Reinet FCS-eenheid het die vermiste persoon-navraag geregistreer. Persone met enige relevante inligting kan die ondersoekbeampte kontak by 082 413 6608.
Hierdie is 'n ontwikkelende storie en sal opgedateer word soos inligting beskikbaar raak.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'