Update
KAROO NUUS - Die bekende plaaslike fisioterapeut, Sineke Schmidt van Wilderness en haar familie is in rou gedompel na die wrede moord op haar dogter, Marolien (40) in Gqeberha op Vrouedag, Woensdag 9 Augustus.
Marolien, wat sowat twee weke gelede haar 40ste verjaarsdag gevier het, is in haar huis in Sherlockstraat in Richmond Hill deur 'n inbreker met 'n mes aangeval.
Marolien was 'n boorling van Graaff-Reinet, 'n oud-Volksie van Hoër Volkskool, en die dogter van Sineke en wyle dr. Willem Schmidt.
Volgens Graaff-Reinet Advertiser, susterspublikasie van George Herald, was Marolien nie net 'n suksesvolle sakevrou nie, maar was sy ook besonders geliefd.
Marolien, bekend as The Pink Physio, sal onthou word vir haar pragtige glimlag en aansteeklike lewenslus. Praat jy met haar vriende, vertel almal dat sy 'n hart van goud gehad het en 'n liefde vir haar naaste wat van hier tot by die horison gestrek het.
Verskeie organisasies, besighede en vriende het gedurende die afgelope week byeengekom om haar lewe te herdenk.
Terri Stander, raadslid vir wyk 5 in Richmond Hill, Gqeberha, wat ook in dieselfde straat as Marolien gewoon het, sê dat sy 'n stralende lig was wat altyd aktief by die gemeenskap betrokke was. Stander vertel dat Marolien 'n passie gehad het vir kankernavorsing en 'n hele buurt saamgebring het om pienk materiaal te koop en bome in die omgewing daarmee te versier; met dié opbrengs wat dan aan kankernavorsing geskenk is.
Marolien was die oudste van drie kinders, haar broer Casper (38), woon in Stellenbosch en Jan (33), woon in Londen. Schmidt sou volgende jaar Januarie, na Londen verhuis omdat sy daar 'n goeie werksaanbod gekry het, vertel Jan. "Sy was baie opgewonde oor hierdie nuwe avontuur."
Moord op Schmidt
Marolien se bure van die afgelope vyf jaar, Mike en Terry Eddy sê hulle het ongeveer 01:40 glas hoor breek en Schmidt om hulp hoor skree. Hulle het haar bebloed op die vloer van haar huis gevind. Die inbreker het haar herhaaldelik met 'n mes gesteek en weggehardloop toe dit blyk dat iemand Schmidt te hulp snel.
Eddy vertel dat hy die ambulansdienste gebel het en toe hulle hom meedeel dat dit 20 minute sou neem vir die ambulans om op te daag, het hy Schmidt in sy eie voertuig gelaai en na die hospitaal gejaag. Sy het egter minute na haar aankoms by die hospitaal gesterf.
Simxolele Zitshu in aanhouding
Beeldmateriaal van 'n kringtelevisiekamera by wyksraadlid Terri Stander se woning, 'n paar huise weg van Schmidt sin, het gelei tot die vinnige arrestasie van Simxolele Zitshu (31) op
10 Augustus. Hy is in die sentrale deel van Gqeberha aangekeer.
Volgens PE EXpress is Zitshu 'n veroordeelde moordenaar en rower. Die Advertiser wag vir bevestiging van die polisie hieroor. Zitshu het Maandag 14 Augustus sy eerste verskyning in die Gqeberha-landdroshof gemaak. Op Dinsdag 15 Augustus het hy weer in die hof verskyn om 'n datum vir 'n formele borgtogaansoek vas te stel en die saak is na die Gqeberha-streekhof oorgeplaas en tot 22 Augustus uitgestel.
Volgens Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Oos-Kaap, wou Zitshu eers homself verteenwoordig, maar het Dinsdag 'n prokureur van Legal Aid Attorneys aangestel.
Hy word van moord, diefstal met verswarende omstandighede en huisbraak met die doel om te steel, aangekla. Zitzhu bly in aanhouding.
Gedenkdiens Vrydag
Marolien se gedenkdiens word Vrydag 18 Augustus om 16:00 by Slipperfields op die Witteklippad in Gqeberha gehou.
Vorige artikels:
Die aangeklaagde Simxolele Zitshu in die hof. Foto: Siyabonga Sesant (Algoa FM News)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’