HOFMEYR NUUS - Huis Welverdiend in Jansenville het die afgelope drie maande behoorlik vlamgevat. Nadat Hofmeyr Hugs of Hope aan die tehuis ‘n uitdaging gestel het om teddiebere, wat Hugs se kenteken is, in enige kunsvorm uit te beeld het die inwoners nie op hulle laat wag nie.
Leoné Mulder vertel dat daar in groot geheimsinnigheid beplan is, en dat daar Dinsdagmiddae aan hul kunsprojekte gewerk is. Dikwels in groot geheimhouding is daar ontwerpe uitgedink, planne gemaak en die teddiebere het stadig vorm aangeneem, en niemand mog enige ander persoon se plan nadoen nie.
Die houer met die voltooide teddiebere is op 1 Maart volgepak, waarna Leoné elke projek duidelik gemerk en dit verpak het. Die kosbare vrag is deur Riaan Oliphant, onderhoof by Hoërskool Jansenvile, na Hofmeyr geneem, waar die inhoud die afgelope week uitgepak en besigtig is.
Groot opgewondenheid het by Hofmeyr Hugs of Hope geheers toe daar teddiebere in alle vorms opgedaag het. Kussings met teddiebere, gebreide- en velt teddiebere en selfs ‘n een met ‘n tandsakkie vir die tandemuis. Daar is ook talle kleurvolle sketse, en geplakte teddiebere gemaak en die bestuur het besluit dat die sketse gebruik sal word om op Hugs-geskenksakkies te druk. Die sagte teddiebere sal gebruik word waar elkeen nodig is.
Leoné deel mee dat die inwoners ywerig meegedoen het, en dat selfs die verswakte seniors ‘n bydrae gelewer het. Hugs het besluit dat elke inwoner ‘n geskenkie sal ontvang. Intussen het Hugs ‘n verdere uitdaging aan die inwoners gestel, wat later bekend gemaak sal word.
Lees 'n vorige berig: Huis Welverdiend gaan voluit vir uitdaging
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’