OOS-KAAP NUUS - Unathi Binqose, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van vervoer, het bevestig dat die dodetal in vanoggend se ongeluk tussen ’n bakkie en ’n langafstandbus, op die N2 naby Peddie, tot vyf gestyg het.
Met nooddienste se aankoms op die toneel is vier insittendes van die bakkie dood verklaar. ’n Vyfde insittende het aan sy beserings beswyk terwyl hy op die toneel behandeling ontvang het. Dit bring die aantal sterftes op vyf.
“Die oorledenes bestaan uit drie mans en twee vroue. ’n Sesde insittende van die bakkie het ernstige beserings opgedoen en is vir verdere mediese behandeling na die hospitaal geneem,” deel Binqose mee.
Die bus, met passasiers, was van die Oos-Kaap na Kaapstad onderweg. Die bestuurder is vir skok behandel, terwyl ’n aantal passasiers mediese hulp vir geringe beserings en trauma ontvang het.
Die ongeluk het Maandagoggend, 15 Junie, omstreeks 07:30 plaasgevind. Nooddienspersoneel, wetstoepassingsagentskappe en verkeersbeamptes het vinnig op die voorval gereageer en het sedertdien die toneel ontruim, sodat die verkeersvloei na normaal kan terugkeer.
Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek. ’n Saak van strafbare manslag is by die Peddie-polisie aanhangig gemaak.
Die bus, met passasiers, was van die Oos-Kaap na Kaapstad onderweg. Foto's: Eastern Cape Transport Department
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’