KAROO NUUS - Nadat Graaff-Reinet Advertiser verlede week berig het oor die wydverspreide onwettige vullisstorting in Aberdeen, het verskeie verontwaardigde lesers die Advertiser gekontak in reaksie op Vuyisa Jantjies, kommunikasiebeampte van die Dr Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit, se beroep op inwoners om saam met die munisipaliteit te werk om alle areas in 'n leefbare toestand te hou.
Een inwoner vertel dat hy die waarnemende plaaslike areabestuurder twee weke gelede genader het om 'n bakkie en bestuurder te verskaf sodat hulle 'n area waar tuinafval al vir maande lank aan beide kante van die straat gestort word, kan opruim.
Hy sê hy het aangebied om die arbeid vir die skoonmaak te voorsien as die munisipaliteit dit net wegry. "Ek is uiters vriendelik ontvang en 'n onderneming is gegee dat ek gekontak sou word met 'n datum. Dis twee weke later en ek wag steeds."
Nog 'n inwoner sê dat inwoners gevra word om foto's te neem van mense wat vullis onwettig stort, maar selfs al word dit gedoen, gebeur daar niks, want Aberdeen beskik nie oor plaaslike munisipale wetstoepassers nie. "Law Enforcement moet van Graaff-Reinet af uitgeroep word om hier boetes te kom uitskryf."
Inwoners help opruim
'n Ander inwoner het in die eerste helfte van die jaar op eie koste vullis met 'n laaigraaf in hope gestoot. Dit was gedoen met die goedkeuring van die toe waarnemende areabestuurder, asook die onderneming dat die munisipaliteit 'n trok sou stuur om die vullis weg te ry.
Dit blyk egter net 'n paar van die vullishope is weggery en die vullishope in Meyer-, Rawson- en Jacksonstraat lê maande later steeds net so.
Intussen het plaaslike morsjorse die vullishope aanvaar as nuwe stortingsterreine. Hier word alles weggegooi, van huisgemors tot tuinvullis, van stukkende wasmasjiene tot ou buitebande.
Gesondheidsrisiko
DA-raadslid Jonnika Arries sê die munisipaliteit maak wel van tyd tot tyd die onwettige stortingsplekke skoon, net om te vind dat afval binne dae weer daar gestort word.
Sy wys uit dat die munisipaliteit nie oor voldoende masjinerie beskik om voortdurend opruimingswerk te doen nie, omdat die masjiene tussen dorpe roteer word. Maar sy sê samewerking met ander instansies en programme moet dringend in werking gestel word. Sy vra dat inwoners oortreders moet verkla en dat duidelike bywette met gevolge soos boetes en gevangenisstraf afgedwing moet word.
VF Plus-raadslid Adriaan van Heerden sê hy trap al vir die hele duur van sy termyn die munisipaliteit se drempel deur. "Inwoners kla by my en ek rapporteer dit en gewoonlik kry ons dan iets uitgerig. Ek sal weer gaan vra, maar die plaaslike kantoor het nie masjiene of wetstoepassers op hand het nie. Ons beskik oor die bywette, maar sondebokke weet hier is nie wet en orde nie en dit moedig hulle aan om te mors."
Munisipaliteit reageer
Op Graaff-Reinet Advertiser se navraag aan die munisipaliteit het Vuyisa Jantjies geantwoord dat die ooreenkoms tussen die inwoner en die toe waarnemende areabestuurder op 'n stadium was toe die munisipaliteit nie oor die nodige masjinerie (yellow plant) beskik het om effektief met die vullishope te werk nie.
Intussen het die munisipaliteit masjiene aangeskaf en die afgelope drie maande is die trekkerlaaigraaf en trok wel ontplooi in geaffekteerde areas. Jantjies het bygevoeg dat die munisipaliteit nou in die proses is om 'n privaat diensverskaffer te kontrakteer om die trekkerlaaigraaf na Aberdeen te vervoer, aangesien die trok wat dit gewoonlik gedoen het, in ander areas aangewend word.
Jantjies het die onderneming gegee dat inwoners in die geaffekteerde areas 'n verbetering behoort te sien sodra die aanskaffingsproses afgehandel is. Hy het klem daarop gelê dat die munisipaliteit staatmaak op inwoners en besighede om nie onwettig vullis te stort nie.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’