ABERDEEN NUUS - Aberdeen se munisipale vullisstortings-terrein het verlede week weer onder die loep gekom met die indien van 'n amptelike klag by die Groen Skerpioene deur die plaaslike VF Plus-raadslid, Adriaan van Heerden.
Luidens die VF Plus se verklaring hou die stortingsterrein se haglike toestand gesondheidsprobleme in vir inwoners. "Die ergste hiervan is dat die boorgat, wat een van Aberdeen se hoofbronne van drinkwater is, skaars 80m van die stortingsterrein is.
Daar bestaan geen twyfel dat hierdie water besoedel word deur chemikalieë en ander besoedelende stowwe wat na die ondergrondse water en die rivier syfer nie. Huishoudelike-, landbou- en nywerheidsafval wat op die terrein gestort word lok honde, varke en beeste. Daar woon ook talle haweloses wat 'n inkomste genereer uit herwinbare afval."
In 'n onderhoud met die Graaff-Reinet Advertiser op 2 September tydens 'n besoek aan die terrein, het Van Heerden uitgewys dat diere vreet aan enige afval - ook ontlasting in weggooidoeke.
Plan nodig
Van Heerden sê die situasie is buite beheer met 'n munisipaliteit wat oënskynlik geen plan het nie. Hy sê die bestuur van die terrein sluit verbranding in, maar, wanneer die terrein gebrand word en die wind opkom of draai, waai al die giftige gasse en rook oor die woongebiede. Hy sê hy het sedert die einde van verlede jaar soveel klagtes van inwoners ontvang, dat hy dit nie net langer herhaaldelik onder die aandag van die munisipaliteit kan bring sonder reaksie nie. "Daar moet ook onthou word dat die terrein vandag dalk beter mag lyk as 'n paar maande gelede, maar die toerusting wat aangeskaf is, moet van Graaff-Reinet na ander terreine soos Aberdeen vervoer word met 'n spesiaal toegeruste trok waaroor die munisipaliteit nie geredelik beskik nie. Die gevolg is dat die terrein nie deurlopend versorg word nie en telkens handuit ruk voor die groot opruim en brand gebeur. So ver soos die oog kan sien waai plastiek die wêreld vol! Hoe is dit nie 'n gevaar vir diere en die natuur nie? Hoe is dit die bestuur van 'n terrein?"
Die VF Plus sê indien die situasie nie spoedig aandag geniet nie, die party ook 'n strafregtelike klag teen die munisipale bestuurder, dr. Eddie Rankwana, ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur sal lê.
Munisipaliteit antwoord
Op 'n navraag aan die munisipaliteit op 2 September, het die kommunikasiebeampte, Vuyisa Jantjies, op dieselfde dag geantwoord dat die munisipaliteit omgewings en persoonlike gesondheid van inwoners ernstig opneem en Yellow Plant (swaargewig industriële masjinerie) aangeskaf het na 'n toegif van die departement van omgewing.
Jantjies sê die direktoraat van gemeenskapsdienste het 'n program ontwerp om te reageer op afvalbestuursuitdagings. Die Aberdeen-stortingsterrein, een van die uitdagings, is onlangs skoongemaak. "Die munisipaliteit is tevrede met die kwaliteit van vordering in die bestuur van die terrein."
Hy sê 'n span van die munisipaliteit maak seker dat die situasie nie verval nie. Jantjies doen ook 'n ernstige beroep op inwoners om met die munisipaliteit saam te werk om alle areas in 'n leefbare toestand te hou. Daar word ook verslag gegee oor die stortingsterreine by die tweeweeklikse munisipale bestuursvergaderings.
Die hele omgewing by die terrein is besaai met plastiek. Foto: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’