HOFMEYR NUUS - 'n Totaal van 163 hoenders is onlangs op 'n WhatsApp-veiling opgeveil.
Met die tragiese heengaan van die bekende hoenderboer van Hofmeyr, Gert Jordaan, vanjaar, het sy kinders 'n heenkome gesoek vir sy bykans 450 geregistreerde Pekin Bantam-hoendertjies (lees berig Kragkrisis kortwiek kiepies van 19 Januarie 2023).
Familie het sover hul kon van die hoenders saamgeneem, maar die hoenders is van 'n ander veer en het hulle besluit om die topgenetika, geveerdes op te veil.
Die groot redding het egter gekom toe Tracey Michau van Cradock, bekende in hoenderkringe, betrokke geraak het en aangebied het om van die hoenders te huisves totdat daar op 17 Februarie 'n WhatsApp-veiling aangebied kon word.
Michau ook 'n selfonderhoudende boer van Karoo Plumes, het met die hulp vanaf Saartjie Botha Odendaal, van Poultry WhatsApp Auctions 'n veiling aan die gang gesit.
Altesaam 163 lotte is op die veiling aangebied, waaronder broeipare, henne en hane in elke moontlike kleurvariëteit opgeveil is - Jordaan het met 24 kleurvariëteite Pekin Bantams geboer.
"Daar is nog 'n klompie hane wat oorgebly het na die veiling, maar die veiling was uiters suksesvol, en die hoenders vertrek eersdaags in alle windrigtings," vertel Tracey.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’