HOFMEYR NUUS - Gert Jordaan, 'n geregistreerde Pekin Bantamteler op Hofmeyr, ly erg skade as gevolg van beurtkrag. Jordaan gee skool en is dus nie voltyds tussen sy hoendertjies nie.
"Sowat 500 geregistreerde Pekin Bantams word per seisoen uitgebroei. Beurtkrag veroorsaak egter dat dit hierdie jaar sommer van meet af aan besonder sleg gaan.
"My broeistelsel kan nog hitte behou wanneer ons twee-uur-skofte beurtkrag ondervind, maar Hofmeyr het onlangs vir 23 uur geen krag gehad nie nadat vandale die kragdrade geknip het. Sedertdien het die vier-uur-skofte begin. Tien tot twaalf uur sonder krag by 'n kuikenbroeistelsel veroorsaak dat geen kuikens uitbroei nie. Ons is nou in die helfte van Januarie en ek het reeds 250 kuikens verloor," vertel Jordaan.
"'n Langdurige kragonderbreking beïnvloed die eiers in die broeimasjiene as volg. In die eerste week het die kuikentjies nog min ontwikkel en is hul uiters afhanklik van hitte. Dié kuikens ontwikkel dus nie na wense nie. In week twee is daar reeds ontwikkeling en bloedvloei en 'n mate van liggaamshitte binne die eier, maar dit moet konstant gehou word. Gedurende die derde week is daar al bykans volkome ontwikkeling en die kuiken binne die eier kan al tot 'n redelike mate sy eie liggaamshitte reguleer binne die dop. Hierdie kuikens het 'n beter kans op oorlewing, want hul gaan in 'n tipe hibernering in."
Hy sê met langdurige kragonderbrekings is oorlewing in week een slegs 25%. Ongeveer 40% tot 50% oorleef in week twee en in week drie kan tot 75% lewendig uitbroei.
"Wanneer 'n eier in die broeimasjien nie uitbroei nie, en dit gebeur wanneer ons vir tien uur tot twaalf uur per dag beurtkrag ondervind, verloor ek tussen R400 tot R1 500 per kuiken wat sterf. Ek maak ook my eie broeihenne en broeihane groot, wat nege tot twaalf maande neem voordat ek hul eiers kan gebruik om kuikens uit te broei."
Jordaan broei slegs met geregistreerde Pekin Bantams in meer as twintig kleur-variëteite.
"Ons kan in Hofmeyr slegs deur die somermaande kuikens uitbroei, en my broeiseisoen staan nou reeds einde toe vir hierdie somer, anders sit ek in die winter met koue kuikens."
Hierdie kampioen Koekoek Pekin Bantamhennetjie is Gert Jordaan se gunsteling.
Ligte Columbian Pekin Bantams is in hoë aanvraag. Foto's: Gert Jordaan
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, karoo nuus'