Update
KAROO NUUS - 'n Lid van die Oos Kaapse parlement, skadu-minister van die gesondheid, en uitvoerende raadslid van die Oos-Kaapse wetgewer, Jane Cowley, het die afgelope week ‘n skokkende onthulling gemaak.
Hoewel talle staats-mediese-instellings ‘n ernstige tekort aan toerusting en medikasie ervaar, het die department van gesondheid eerder besluit om foto’s van politici aan hospitale en klinieke te verskaf.
“Terwyl hospitale en klinieke regoor die provinsie nie meer kritieke mediese voorraad het nie, prioritiseer die Oos-Kaapse departement van gesondheid (ECDOH) oënskynlik 'n ydelheidsprojek bo die verskaffing van noodsaaklike mediese behandeling en lewens red,” sê Cowley in 'n verklaring.
Graaff-Reinet Advertiser het tydens gesprekke met verskeie klinieke en hospitale vasgestel dat dit bleik dat die probleem van nie beskikbaarheid van medikasie en agteruitgang van toerusting meer gekonsentreerd is in sommige klinieke in die Chris Hani munisipale distrikte. Geen klagtes van tekorte vanuit die Sarah Baartman-distrikte is gekry nie.
Daar is ook verskeie klinieke wat sê dat hull wel hul voorrade kry, maar dat dit baie lank neem om afgelewer te word, wat veral moeilik is waar dit by chroniese medikasies is.
“Daar word ongelukkig nie naastenby genoegsame linne voorsien aan klinieke nie en die toerusting word nie gediens of gekalibreer volgens die vereiste nie,” is van die inligting wat anoniem met Graaff-Reinet Advertiser gedeel is.
Cowley sê die ECDOH se direkteur van kommunikasie het die voorsieningsketting-afdeling versoek om te tender vir die druk en raam van 600 foto's van politici, wat in departemente en gesondheidsfasiliteite regoor die provinsie geplaas moet word. "Dit kan moontlik honderde duisende rande beloop, terwyl ons hospitale geen voorraad het van kritieke mediese voorrade nie," sê Cowley.
Cowley stel dit duidelik dat hierdie ‘n gevoellose versoek vir verkwistende uitgawes aan foto's van politici is, terwyl ons hospitale in duie stort.
“Dit is 'n skerp herinnering aan hoe ver verwyderd die gesondheidsdepartement is van die talle uitdagings wat verpleegsters, dokters en veral pasiënte in ons provinsie in die gesig staar.”
“Dit is 'n verdere herinnering, dat kaderontplooiing amptenare koester wat dit belangriker ag om senior politici se guns te kry deur hul foto's op te hang, in plaas dat broodnodige fondse gekanaliseer word, om die kritieke medikasie- en mediese toerustingtekorte in ons kreupel klinieke en hospitale aan te spreek,” Sê Cowley.
Cowley onderneem om 'n parlementêre vraag te stel, om vas te stel presies hoeveel die tender, om 600 foto's regoor die provinsie te plaas, hierdie feitelik bankrot departement sal kos.
Verder onderneem sy ook dat sy aan die voorsitter van die gesondheidsportefeuljekomitee ‘n brief sal skryf en haar sal versoek om die Oos-Kaapse departement van gesondheid uit te nooi om voor die komitee te verskyn, sodat die prioritisering van departementele besteding bespreek kan word.
“Die prioritisering van ydelheidsprojekte terwyl die departement kritieke tekorte ondervind en ons mense sterf, wek ernstige kommer.”
Tekorte aan basiese maar noodsaaklike mediese toerusting lei tot onnodige vertragings in operasies, wat kontantvloei in die departement verder belas.
“Dit is dus onpeilbaar dat 'n senior direkteur, wat 'n baie goeie begrip van die haglike finansiële posisie, van die Oos-Kaapse departement van gesondheid moet hê, dit selfs kan oorweeg om broodnodige gelde op 600 foto's te bestee.
Hierdie tender sal geen waarde hoegenaamd tot gesondheidsuitkomste in die provinsie toevoeg nie; in werklikheid sal hierdie verkwistende uitgawes broodnodige fondse verder uitput wat hergekanaliseer kon word, om diensverskaffers en verskaffers van noodsaaklike mediese toerusting te betaal, van wie sommige reeds vir meer as ‘n jaar nie betaal is nie.
“Vir solank as wat hierdie provinsiale regering onbevoegde kaders in diens neem, wat toelaat dat foto's voorrang geniet bo doeltreffende gesondheidsorg, sal die mense van hierdie provinsie bly ly,” verklaar Cowley ten slotte.
Sy het onderneem om 'n parlementêre vraag te stel, om vas te stel presies hoeveel die tender om die foto's regoor die provinsie te plaas, hierdie feitelik bankrot departement sal kos.
Sy sal ook aan die voorsitter van die gesondheidsportefeuljekomitee 'n brief skryf en haar versoek om die Oos-Kaapse departement van gesondheid uit te nooi om voor die komitee te verskyn, sodat die prioritisering van departementele besteding bespreek kan word.
Vorige berig: Gesondheid onder vergrootglas in Oos-Kaap
Verwante berig: Vrou ontsteld oor behandeling in hospitaal
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’