KAROO NUUS - Jane Cowley, die DA se Oos-Kaapse skaduminister van gesondheid, het onlangs verskeie vrae aan die LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, Nomakhosazana Meth, gerig.
Cowley het gesê dat die MRI-skandeerder by die Livingstone-hospitaalkompleks in Gqeberha vir weke na bewering nie gewerk het nie, en het verder dat hierdie kritieke toerusting noodsaaklik is om baie lewensgevaarlike toestande op te spoor, insluitend lewensgevaarlike kankers, obstruksies en senuweeskade.
Verder het sy aangedui dat hierdie na bewering die enigste MRI-skandeerder vir staatspasiënte in die westelike kant van die provinsie is.
Cowley het die vraag gestel: "Wanneer hierdie skandeerder stukkend is, watter alternatiewe reëlings kan getref word vir staatspasiënte wat 'n kritieke behoefte het aan 'n MRI-skandering in die Nelson Mandelabaai- of Sarah Baartman-distrik?"
Die departement het geantwoord dat hy alternatiewe diensverskaffers genader het om te help met die verskaffing van MRI-dienste in die Nelson Mandelabaai-metro. Pasiënte wat hierdie noodsaaklike diens nodig het, kan dit by privaat hospitale in die metro verkry. Die departement betaal dan vir die diens.
"Maar dit is maar een van die vele probleme wat ons in die Oos-Kaapse departement van gesondheid ervaar," sê sy. "Verskeie distrikte is van die toerusting in die groter hospitale in groter sentra afhanklik, maar swak administrasie het hospitale en klinieke sonder begrotings laat wankel," sê sy.
'n Gebrek aan vinnige en betroubare mediese nooddienste (EMS) is ook 'n langdurige probleem in die provinsie, veral in landelike gebiede. Die situasie het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) in 2015 laat ondersoek instel en 'n verslag met gedetailleerde aanbevelings is opgestel. Meth het in haar begrotingsrede vir 2022/23 erken dat die departement nog nie die leemtes wat deur die SAMRK geïdentifiseer is, aangespreek het nie.
"Alhoewel die ambulansvloot van 306 in 2018 tot 439 ambulanse in 2023 toegeneem het, is ongeveer 190 ambulanse hieruit tans nie beskikbaar nie omdat dit in werkswinkels staan vir herstelwerk en dienste," het Meth dit duidelik gestel.
Die departementele woordvoerder, Sizwe Kupelo, het in November 2023 bevestig dat die provinsie nie die nasionale teiken van minstens een operasionele ambulans per 10 000 mense – of sowat 650 operasionele ambulanse – haal nie.
Afgesien van die stakings wat soms op kort kennisgewing 'n direkte impak op die verskaffing van gesondheidsorgdienste het, beklemtoon dit ook die feit dat dispute tussen werkers en die plaaslike departement van gesondheid 'n konstante kenmerk van gesondheidspolitiek in die provinsie onder hierdie en vorige administrasies was.
Navorsing deur Cowley het aan die lig gebring dat talle hospitale onder die departe-ment wel toegerus is met teaters, maar dat dit nie gebruik kan word as teaters nie, as gevolg van talle tekortkomings.
Daar is veral 'n ellelange waglys vir elektiewe chirurgie, wat ortopediese chirurgie, katarak chirurgie, algemene chirurgie, urologiese chirurgie, en onkologie chirurgie insluit, met nadelige gevolge vir die pasiënt van afhanklik is van staatsgefinansierde chirurgie.
"Pasiënte word op waglyste geplaas vir tussen drie tot 12 maande voordat chirurgie geskeduleer kan word," deel Meth mee.
Kobus Botha, Oos-Kaapse parlementslid, DA-raadslid en Oos-Kaap DA Middellandse kiesafdelingleier, het navraag gedoen rondom die beskikbaarheid van ambulansdienste, in veral die Middelandse streek en dit blyk dat daar in Cradock sewe ambulanse beskikbaar moet wees, asook twee reaksie voertuie, een reddingsvoertuig, en twee voertuie om pasiënte na spesialiteits mediese dienste te vervoer. Op die grondvlak lyk dit radikaal anders, en vir 'n geruime tyd moes die departement in Cradock met baie minder voertuie hul dienste verrig.
"Talle krisisse word op 'n daaglikse basis deur die departement hanteer en ook ondervind," deel Meth mee. "Altesaam 48 695 persone word in Cradock bedien terwyl daar in Middelburg altesaam 18 327 pasiënte bedien word."
Twee van Cradock se ambulanse is tydens die Desember-vakansie in ongelukke afgeskryf, terwyl een ambulans in Middelburg ook in 'n ongeluk betrokke was. Twee pasiënte vervoerbussies is ook nie geskik vir gebruik nie nadat dit in ongelukke betrokke was.
Meth versoek voorts ook die publiek om die korrekte nommers te skakel wanneer daar geskakel word vir ambulansdienste, en nie op publieke groepe navraag te doen, waar beledigings soms hoogty voer nie. Dit neem gemiddeld 45 minute vir 'n ambulans om op 'n noodroep te reageer, maar hou in gedagte dat pasiënte na Gqeberha afvervoer word wat dan veroorsaak dat daardie voertuig vir tot vyf uur nie beskikbaar is om plaaslike dienste te lewer nie.
Taal is soms 'n krisis aangesien die personeel nie noodwendig Afrikaans magtig is nie. Daar word ook lank gewag vir herstelwerk en dienste op voertuie. Die EMS-dienste ondervind ook 'n tekort aan personeel, veral as in gedagte gehou word dat hierdie dienste dag-en-nag verskaf word.
"Hierdie voertuie word ook ingespan oor lang afstande, en dit veroorsaak dat hul meer gereeld vir instandhoudingswerk gestuur moet word," verduidelik Meth. "Neem byvoorbeeld in ag dat daar daagliks van Middelburg na Gqeberha gereis word met pasiënte, 'n totale rondom-afstand van 720 km."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’