WILLOWMORE NUUS - ‘n Bejaarde inwoner van Willowmore is baie ongelukkig oor die manier hoe sy onlangs deur twee personeellede van die Willowmore hospitaal verneder is.
Die 68-jarige Elizabeth Rex vertel dat sy die oggend van die 25ste Mei besoek by SASSA se kantore afgelê het en dat SASSA haar toe gestuur het om ‘n dokter by die kliniek of hospitaal te gaan sien.
Sy is eers kliniek toe maar nadat die klinieksuster haar in kennis gestel het dat hulle alreeds ver vooruit vol bespreek is het sy besluit om hospitaal toe te gaan.
Daar gekom het die ontvangsdame ‘baie stories’ gehad en hoe meer Rex aan haar verduidelik het dat sy wel by die kliniek was, hoe minder wou sy verstaan.
“Die fout wat ek gemaak het was om nie ‘n verwysingsbrief by die klinieksuster te kry nie. ‘n Mens kan mos nie hospitaal toe gaan sonder om by die kliniek te begin nie want dan moet jy betaal,” verduidelik Rex.
“Sy het aanhoudend vir my vertel van prosedures wat gevolg moet word en ek het gesê dat ek dit verstaan. Ek het ook vir haar gesê dat ek sal betaal maar dat hulle vir my ‘n rekening moet stuur omdat ek nie geld gehad het om dadelik te betaal nie.” Volgens Rex het die ontvangsdame toe gesê dat sy eers die suster moet gaan vra of sy dit so mag doen.
“Sy het so lank weggebly dat ek later besluit het om te loop maar toe roep een van die sekuriteitswagte my terug,” vertel Rex. “Ek het teruggedraai en toe ek weer daar aankom hoor ek die suster sê: “Vir wat het julle haar teruggeroep? Julle moes haar gelos het dat sy loop.”
Toe vertel die suster vir my dat ek ‘n houding het. Ek het geantwoord dat ek nie ‘n houding het nie maar as ek wel een het dan het hulle my dáár een gegee.
Ek het weer gesê dat ek verstaan dat daar prosedures is maar dat ek mos gesê het dat ek gaan betaal.” Volgens Rex het die betrokke suster haarself toe nog meer opgeruk en gesê: “Maak vir haar ‘n rekening oop, maak vir haar ‘n rekening oop sodat sy ‘n R100 rekening kan kry” waarop Rex geantwoord het dat sy R2000 per maand by die regering kry en dat sy R100 kan bekostig en sal betaal.
“Dit moes ek nie gesê het nie want toe slaan sy oor in isiXhosa en begin skel en dít het my so kwaad gemaak dat ek besluit het om ‘n klagte in te dien.”
Rex vertel verder dat sy die klagtevorm gekry het maar op die vorm gesien het dat dieselfde suster die klagtes hanteer.
Sy is egter verseker dat haar klagte wel aandag sal genie omdat dit glo nie net die een suster is wat klagtes hanteer nie. “Ek het die klagtebrief by die huis gaan invul en dit die volgende Donderdag in die klagteboks gaan gooi omdat dit op Vrydae uitgehaal word. Daarna het ek gewag en gewag maar geen terugvoering ontvang nie. Ek het ek die klagte by Zola Menze van die EFF gaan aangee en hy is hospitaal toe om navraag te doen maar hulle het vir hom gesê dat daar geen klagtebriewe in die klagteboks was nie,” sê Rex.
“Die Here was so goed vir my. Hy het vir my gesê ek moet ‘n afdruk maak sodat ek my oorspronlike kan hou. As ek dit nie gedoen het nie sou hulle my heeltemal afgestry het.” Rex het uiteindelik op die 17de Junie terugvoering oor haar klagte ontvang. “Hulle het gesê dat hulle haar gaan dissiplineer maar ek het gevra dat sy verplaas moet word omdat so baie mense al oor haar gekla het,” sê Rex. Menze is ook hoogs ontstoke oor die uitspraak.
“Die COO het net verskoning gevra maar dit is nie goed genoeg nie,” sê hy. “Daar was al te veel klagtes oor hierdie suster maar omdat sy die een is wat die klagtes hanteer kom kom daar niks van nie en dan kom kla die mense by my,” sê hy. Menze glo dat die betrokke suster eenvoudig alle klagtes teen haar uit die klagteboks verwyder en vernietig voordat ander dit te sien kan kry.
“Die klagteboks is ook weggevat voor die kamera waar dit altyd gestaan – dit staan nou daar waar nie kameras is nie,” sê Menze. Hy beklemtoon dat die aangeleentheid nie net so gelos kan word nie. “Die departement moet ernstige stappe teen hierdie suster neem sodat dieselfde nie met ander mense gebeur nie.”
‘n Versoek vir kommentaar is na die betrokke suster gestuur en ook by die Departement van Gesondheid ingedien maar teen druktyd was daar nog geen terugvoering nie.
Rex se klagte is nie enig in sy soort nie. Talle soortgelyke klagtes oor die manier hoe mense by die Willowmore hospitaal en die Midland hospitaal in Graaff-Reinet behandel word is onder die Advertiser se aandag gebring en word tans ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’