Update
GRAAFF-REINET NUUS - Elvis Blue is besig om 'n 14 dag toer te onderneem, al die pad van George na Nelspruit. Hierdie tog is nie in 'n luukse SUV-voertuig nie, maar op 'n fiets.
Jy sal seker wil weet hoekom hy dan nou hierdie perd, of moet ons liewers sê fiets, opgesaal het om vir 1500 km teen wind en weer te veg. Wel, want dit is alles vir 'n goeie doel.
Elvis se doel is om bewustheid te skep oor die uitdagings wat weerlose kinders in Suid-Afrika in die gesig staar en fondse in te samel om hierdie kinders te help.
Hy wil die aandag vestig op die probleme van honger kinders, gebrek aan skoolbenodigdhede asook 'n gebrek aan fondse vir kinders met potensiaal en die uitdagings wat hierdie kinders en hul ouers daagliks in die gesig moet staar.
Deur sy fietsrit beoog hy om mense aan te moedig om iets betekenisvol te doen vir kinders wat hulp nodig het.
Die fondse wat ingesamel word, sal twee spesifieke liefdadigheidsorganisasies ondersteun, naamlik: Life Community Services in George en die Daaitjie Orphan Project in Nelspruit - hierdie organisasies is betrokke by die fisieke en opvoedkundige behoeftes van minderbevoorregte kinders.
Besighede en die breë publiek kan betrokke raak deur finansiële donasies of die skenk van enige skoolbenodighede. Die publiek kan ook 'n vrywillige skenking maak wanneer jy jou Innibos kaartjie koop, asook via Elvis Blue se sosiale media platforms en op die Atterbury Trust se webstuiste via die Donasiewinkel. Alle finansiële donasies sal via die Atterbury Trust vir liefdadigheidsdoeleindes ingesamel en verantwoordelik bestuur word. In 'n gesprek met Elvis op 3 Junie toe hy oppad was na Graaff-Reinet, moedig hy lesers aan om die projek te ondersteun en 'n donasie te maak. "Onthou dat jy 'n donasie kan maak, iewers is daar 'n mamma wat bid omdat haar kind soveel potensiaal het maar nie haar kind kan help nie," sê hy. Volg gerus vir Elvis wat vandag van Ventersdorp na Smithfield sal ry en 'n totaal van 112.3 km vir die dag gaan aflê. Elvis Blue sal voortaan op die volgende dorpe, Smithfield, Hobhouse, Ficksburg, Bethlehem, Vrede, Morgenzon, Badplaas en Nelspruit aandoen in sy poging om soveel moontlik fondse vir behoeftige skoolkinders in te samel.
Vorige artikel: Elvis Blue op pad na Graaff-Reinet toe - op 'n fiets - 3 Junie
Die skakel vir donasies: https://atterburytrust.org/
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’