CRADOCK NUUS - Die bekende radio-omroeper Clarence Keyter (80) is op Vrydag 17 November na ’n lang siekbed oorlede.
Die radiostasie Kanaal 7 het hom ’n "reus in die Suid-Afrikaanse uitsaaibedryf" genoem.
“Dit word met met groot hartseer bevestig dat Clarence Keyter, oudleerder van Cradock Boys High School en een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde en geliefde radio- en TV-persoonlikhede, oorlede is.
Keyter se stem en gesig was vir dekades deel van die landskap van Suid-Afrikaanse nuus, en sy dood laat ’n groot leemte in die mediagemeenskap,” het Charles Garth op die Cradock Skole Alumni-groep gesê.
Volgens 'n inskrywing op Kanaal 7 se Facebookblad, het Keyter se uitsaaipad in 1967 begin toe hy by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK/SABC) aangesluit het.
“Volgens sy professionele profiel het hy in verskeie sleutelrolle gedien, as joernalis, verslaggewer, nuusleser, politieke korrespondent en vervaardiger, tot en met sy aftrede in 1996.
Sy loopbaan het meer as drie dekades van nuusgebeure en politieke verandering gedek.”
Keyter het vroeër in ’n onderhoud gesê dat een van sy mees gedenkwaardige uitsendings op 11 Februarie 1990 was, tydens die historiese vrylating van Nelson Mandela. Mediaverslae en ontledings uit daardie tyd bevestig dat Keyter deel was van die span wat internasionale aandag help rig het op dié keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis.
Hierdie uitsaaier van formaat, wat in Cradock, in die Oos-Kaap grootgeword het, was ook betrokke by internasionale nuusdekking, onder meer ’n spesiale uitsending in Londen in 1994, tydens Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing.
“Keyter se werkskollegas onthou hom as professioneel, bedagsaam, en ’n mens met ’n besonderse vermoë om stories met insig en waardigheid te vertel,” sê Kanaal 7.
Keyter laat sy vrou, Francis, asook familie, kollegas en talle kykers en luisteraars agter.
Sy nagedagtenis word geëer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’