HOFMEYR NUUS - Die stem van Simon Rouch van die plaas Gannaleegte, saam met musiek wat die voete laat jeuk, het vroeg Saterdagoggend, 1 November, luid verkondig dat iets aan’t gebeure was by die skougronde in Hofmeyr.
Die ritse voertuie by die Farmhouse en voor die Victoria boetiek hotel het getuig van talle gaste wat daar oornag het.
En dan was daar Hofmeyr se kenmerkende rooi stof wat met elke perd se galop die hele arena in wolke rooi stofgehul het - maar dit ís mos waaroor die South African Mounted Games gaan: die perde moet stof opskop!
Nuwe klub se ope dag
Volgens die plaaslike organiseerders, Louis en Marguerite Hattingh, het die nuut gestigde Western Mounted Games-klub, Rofmeyr se eerste ope dag groot byval gevind onder deelnemers van oraloor.
“Die dag het sommer met die intrapslag reeds 67 perde en nege motorfietse getrek as deelnemers,” vertel Marguerite terwyl sy waterbottels tussen die beoordelaars, die uitsaaiers en haar ses kinders ronddra.
Die ope dag is gehou om die sport bekend te stel en nuwe lede te werf.
Die 67 perde en ruiters het in ouderdoms- en vaardigheidsvlakke gekompeteer - en die jongeste deelnemer, Taliyah Hattingh, is maar drie jaar oud!
Die president van Oos-Kaap SAWMGA, Owen Smith, was die beoordelaar, bygestaan deur Marinda Rossouw.
Motorfietse
Die nege motorfietse het volgens dieselfde reëls aan dieselfde speletjies as die perde deelgeneem.
“Net een motorfiets was in een speletjie vinniger as die vinnigste perd,” vertel Louis Hattingh van Louisseplaas, Tarkastad.
Die egpaar se kinders het ook ywerig deelgeneem, en hul dogter, Amorey (15), is benoem as die algehele wenner vir die dag, met haar perd Ramkat, wat sy self geleer het.
Terwyl Graaff-Reinet Advertiser op die terrein rondbeweeg het, het ruiters wat nie binnekort in ’n kompetisie sou ry nie, sommer vir die pret rondom die skougrond gery.
Suiker
Suiker, die muil wat tydens dié jaar se Nasionale Western Mounted Games Kompetisie in Parys groot bekendheid verwerf het, het natuurlik ook deelgeneem, en feesgangers kon met Suiker vir ’n foto poseer om ’n sagte speeding, Suiker se ewebeeld, te bekom.
Middernag
Rofmeyr het perde en ruiters van onder andere Port Elizabeth (Gqeberha), Orania, Stutterheim, Oos-Londen, Koffiefontein, Cradock, Bethulie en Hofmeyr onthaal, en die kuier het tot lank na die laaste rit nog voortgeduur.
Teen digby middernag het die jongeres begin omval en die oueres het maar stadig huis gekry, soveelso dat daar nog tot halfdag Sondag moes opgeruim word, “maar dit was net so lekker soos die hele organisering en groot fees Saterdag,” vertel Marguerite, wat duidelik meer energie as die gemiddelde mens het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’