GRAAFF-REINET NUUS - Vyf van Hoër Volkskool se onderwysers is aangewys as nasionale merkers vir die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens.
Om as nasionale merker aangewys te word, is ’n uitsonderlike prestasie wat ’n hoë vlak van vakkennis, professionele integriteit en vertroue van die Departement van Basiese Onderwys weerspieël.
Slegs onderwysers met bewese kundigheid en ervaring in die assessering van leerderprestasie op nasionale vlak word vir hierdie verantwoordelike taak aangewys.
Die volgende onderwysers van Volkskool is vir hierdie groot eer benoem:
• Neil Schreuder, moderator vir rekenaartoepassingstegnologie (RTT)
• Ilse Nel, adjunkhoofmerker vir rekeningkunde
• Estene Coetzee, senior merker vir wiskundegeletterdheid
• Suliza van Wyk, senior merker vir Engels eerste addisionele taal
• Tiaan van Zyl, merker vir besigheidstudies
Volgens die skoolbestuur bevestig hierdie aanwysings die hoë standaard van akademiese uitnemendheid waarop Volkskool trots is, asook die kwaliteit en kundigheid wat daagliks in die klaskamers uitgeleef word.
Die skoolbestuur sê dat elke onderwyser se toewyding, harde werk en passie om leerders se volle potensiaal te ontwikkel, groot waardering geniet.
Volkskool het sy hartlike gelukwense aan die vyf opvoeders oorgedra en gesê dat hulle die skool ongelooflik trots maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’