NIEU-BETHESDA NUUS - 'n Bekende rotskunstenaar van Nieu-Bethesda was geskok om uit te vind dat sy alombekende mannekyn in 'n plaasdammetjie, Beverly, spoorloos verdwyn het. "Beverly verskyn gereeld op Facebook, en oral op sosiale media is sy 'n bekende.
Toeriste stop graag daar, neem foto's, klim ook soms in die water en swem in die hittige somers saam met haar," sê Ryno Greeff.
"Sondagoggend het ek gehoor dat sy nie meer in die dam is nie toe daar navrae is of ek haar dalk uitgehaal het."
Kunstenaar
Beverly is niks minder bekend as Greeff se opeluginstallasie van rots sowat 7 km buite Nieu-Bethesda nie.
Net soos die klipfigure wat toeriste na Nieu-Bethesda lok, het die skraps geklede Beverly reeds wêreldwye bekendheid verwerf.
Die winkelpop in 'n kleurvolle bikini wat hy in "die mooiste plaasdammetjie in Suid-Afrika" geplaas het om die omgewing op te helder en vir verbygangers met 'n roos in haar hand te wuif, het verdwyn terwyl Greeff uithuisig was.
Lewe van haar eie
In gesprek met Graaff-Reinet Advertiser het Greeff nie sy diepe ontsteltenis, en teleurstelling in die mensdom verdoesel nie.
“Ek het vir Beverly so twee jaar terug daar in die dam gaan sit nadat ek 'n gesprek op Facebook gevolg het oor die mooi dammetjie.
Ekself het ook graag daar verbygery met my fiets en self gedroom daarvan om daar te swem. Ek het Beverly ('n doodgewone winkelpop) by 'n tweedehandse handelaar in Gqeberha opgespoor, en haar toe op 'n behoorlike voetstuk in die dammetjie staangemaak.
Ons het haar sommer een aand by die klub die naam Beverly gegee. Nou word Beverly vermis!
Was dit kwaaddoeners, of was dit as 'n grap; is sy dalk ontvoer, of word sy weggesteek? Beverly het 'n lewe van haar eie en sy is nou waarlikwaar gesteel - haar splinternuwe tweestuk en al!"
'Gee haar asseblief terug'
Die skepper van Sunshine Simplicities op sosiale media, Tammy Southby, sê dit is baie hartseer dat Beverly vermis word.
"Ons almal weet sy het nie gekies om net uit vrye wil daar uit te klouter en te verdwyn nie.
Sy is immers 'n mannekyn.
Beverly het so graag ontspan in haar plaasdam, agter 'n doringdraadheining, so dis nie 'n kwessie van net met haar wegstap nie. Ek sou aanvaar dat dit waarskynlik as 'n dom uitdaging gedoen is en ek is seker 'n sekere hoeveelheid alkohol was betrokke.
Dit het moeite geverg."
Southby hoop dat wie ook al vir Beverly het, haar sal terugbesorg. "Laai haar iewers af, met 'n nota, en ons sal haar gaan haal," versoek sy.
Kontakbesonderhede
As iemand enige inligting het, kontak asseblief Nieu-Bethesda Toerisme of stuur vir hulle 'n boodskap by 082 820 1166.
Beverly is daar buite! En ons moet haar huis toe bring!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’