ABERDEEN NUUS - VF Plus-raadslid Riaan van Heerden het onlangs sy teleurstelling uitgespreek oor die agteruitgang van die sipresboombegraafplaas in Aberdeen.
Hierdie historiese begraafplaas huisves die laaste oorblyfsels van talle prominente persoonlikhede insluitend Jan Vorster, die eienaar van die plaas Brakfontein wat in 1855 aan die NG Kerk verkoop is.
Brakfontein is later in kleiner plotte verdeel en verkoop en só het die ontwikkeling van Aberdeen begin. Die begraafplaas huisves ook vier Boeremaggrafte en 25 Britse grafte ter nagedagtenis aan offisiere, onderoffisiere, en manskappe wat in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 gesneuwel het.
Volgens Van Heerden is 'n wandeling deur hierdie begraafplaas egter nie meer die ware wandeling deur die geskiedenis van eens nie.
"Daar is geen munisipale instandhouding nie en gevolglik is dit in 'n skokkende toestand. Dit is besaai met afvalmateriaal en heeltemal oorgroei met bosse en struike."
Hy sê die verwaarlosing minag diegene wat daar begrawe is. Hy is ook bekommerd oor die veiligheid van besoekers omdat vandale dit teiken - 'n broeiplek vir misdaad. Van Heerden sê dat hy die toestand van die begraafplaas herhaaldelik by Dr Beyers Naudé se munisipale raad en by die munisipale bestuurder, dr. Edward Rankwana aangemeld het, maar dat daar tot dusver niks van gekom het nie.
Volgens hom is 'n persverklaring wat die munisipale woordvoerder, Vuyisa Jantjies uitgereik het, onakkuraat. In sy verklaring sê Jantjies dat begraafplase gereeld tydens wykskomitee- en gemeenskapsvergaderings bespreek word, maar Van Heerden sê dis nie die geval nie. "Daar word glad nie oor die toestand van begraafplase by wykskomiteevergaderings gepraat nie," sê hy. "Ek kan nie eens onthou wanneer laas daar 'n wykskomiteevergadering in Aberdeen se wyk 7 gehou is nie."
Van Heerden bevraagteken ook die finansies van die munisipaliteit. "Daar is geld wat elke jaar bewillig word vir die instandhouding van begraafplase. Waar is daardie geld en hoekom word dit nie vir die nodige doeleindes aangewend nie?"
Van Heerden is van mening dat die munisipaliteit die begraafplaas onmiddellik moet herstel en beveilig omdat die verval van die dorp se geskiedkundige besienswaardighede besoekers wegdryf en die plaaslike ekonomie negatief beïnvloed.
Die begraafplaas is toe onder onkruid.
Die reste van die Aberdeen-begraafplaas se muur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’