Update
KAROO NUUS - Al 18 slagoffers van 'n gru-ongeluk Maandagaand, 6 Januarie in die Van Reenenspas in KwaZulu-Natal, is van Qumbu in die Oos-Kaap.
Sewentien mense is dood en 'n klein dogtertjie is beseer toe 'n taxi en 'n trok reg van voor gebots het. Die slagoffers was almal in die taxi en vyf van die oorledenes is van dieselfde familie.
Sewe mans, vier meisies, drie vroue en drie seuns is op slag dood in die taxi wat na die feesseisoen onderweg was van Qumbu na Johannesburg. Oorspronklik is berig dat al 18 mense in die taxi omgekom het, maar dit het later aan die lig gekom dat daar 18 insittendes in die taxi was, insluitend die bestuurder.
Die 37-jarige Zimbabwiese trokbestuurder het van die toneel gevlug, en 'n volledige ondersoek is dringend geloods.
KwaZulu-Natal se minister van vervoer, Siboniso Duma het intussen bekend gemaak dat CCTV-beeldmateriaal wys dat die taxi in mistige, swaar reën reg voor die trok inry. Duma sê op die stadium is dit waarskynlik dat die ongeluk veroorsaak is deur die reën, spoed, 'n voertuig-defek en nalatigheid aan die kant van die taxi-bestuurder.
Die tweede fase van die ondersoek sal fokus op spoed as 'n oorsaak.
Unathi Binqose, Oos-Kaapse mediaverteenwoordiger oor padveiligheid, sê dit blyk die Oos-Kaap is die provinsie met die hoogste lewensverlies op die land se paaie die afgelope feesseisoen.
Hy sê talle mense op hul jaarlikse verlof gebruik taxis om te reis van en na die Oos-Kaap. Die Wes-Kaap en Gauteng is gewilde bestemmings vir Oos-Kaapse werkloses opsoek na 'n beter lewe.
Binqose het medelye betuig met elke gesin wat geliefdes in die KZN-ongeluk verloor het.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’