GRAAFF - REINET NUUS - 'n Langafstandtrok vol wyn en bier het Dinsdagoggend, 2 Mei, tussen 06:00 en 07:00 op die N9-hoofroete tussen Aberdeen en Graaff-Reinet ongeveer 20 km buite Aberdeen die pad verlaat en omgeslaan.
Die trok het op die skouer van die pad beland en die ryvlak gedeeltelik versper. Geen ander voertuig was in die ongeluk betrokke nie.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die kantoor van die provinsiale kommissaris van die Oos-Kaap, sê die bestuurder het ligte beserings opgedoen en is na hospitaalbehandeling ontslaan.
Verskeie noodvoertuie, die plaaslike polisie en provinsiale verkeerspolisie was vinnig op die toneel om buitery van die voggies aan boord en langs die pad te voorkom. Die toneel is afgesper, maar die nuus dat kaste drank in die pad lê het soos 'n veldbrand versprei.
Teen 09:00 het voertuie vanuit beide rigtings so na as moontlik aan die ongelukstoneel stilgehou en mense het hulself sonder keer aan die vrag gehelp en die versperrings eenvoudig platgetrap. Die beperkte aantal gewapende polisielede het hulle bes gedoen om orde te handhaaf en die toneel en vrag te beskerm, terwyl die verkeersbeamptes die verkeer gereguleer het. Ten spyte van die polisie se dapper poging om die buitery te verhoed, is etlike kratte vol drank gesteel. Die algemene houding van die buiters was, "Dis Krismis in Mei".
Bakkies, sleepwaens, klein trokke en motors is propvol drank gelaai. Die polisie se taak is bemoeilik deurdat die trok op die skouer van die pad gelê het; die ryvlak ten dele versper was; die vrag half verlore en onbeskut was; voertuie steeds die pad gebruik het, en mense uit alle rigtings nadergestroom het.
Daar was baie meer stropers as polisielede, maar die klein groepie beamptes het dapper en beheersd orde gehandhaaf en alles moontlik gedoen om die trok en oorblywende vrag te beskerm. Onvergenoegde stropers wat nog nie hulle hande op die buit kon lê nie, asook diegene wat reeds hulle buit gelaai het, maar verhinder is om die toneel te verlaat, het oproerig en aggressief geraak.
Dit was opvallend hoe polisielede die gejou, geskel en dreigemente uitdrukkingloos verduur het, en nie 'n tree afgewyk het van hulle plig om orde te handhaaf en die trok te beskerm nie.
Kort na 11:00 het die swaarvoertuig-insleeptrok opgedaag en is die pad vir 'n wyle vir verkeer gesluit. Die trok is op sy wiele getrek en die pad weer oopgestel.
Teen 12:30 was verkeersvloei terug na normaal, maar die toneel nog nie opgeruim nie. Beamptes het aangedui dat hulle op die toneel sou bly totdat uitsluitsel van die eienaar van die trok verkry is oor hoe met die oorblywende vrag gehandel sou word.
Naidu het ook bevestig dat 'n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen en ondersoek word.
Vorige artikel: Krismis in Mei op die N9
Van die buit netjies opgelaai.
Die pad was gedeeltelik toe.
'n Herwinningsvoertuig en insleepwa is ingespan om die trok reggop te trek. Foto: Marguerite Beneke
Die polisie het die gejou van die buiters emosieloos aanvaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’