Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - 'n Swaarvoertuig wat drank vervoer, het vanoggend (2 Mei) tussen 07:00 en 08:00 op die N9-hoofroete tussen Aberdeen en Graaff-Reinet omgeslaan.
Tans word die ongelukstoneel deur gewapende polisie bewaak om diefstal van alkohol te probeer bekamp.
Gemoedere loop egter hoog, want vele voertuie het reeds opgedaag om van die alkohol te buit en sommige het reeds met vol vragte vertrek.
"Dis Krismis in Mei," sê een van die "opruimers" met 'n kis bier in sy hande, op pad na 'n reeds goed gelaaide voertuig.
Verkeerspolisie reguleer die verkeer effektief en die pad is ten dele oop. Vertragingstyd om by die toneel verby te weeg is ongeveer 10 minute.
Alhoewel daar vele noodvoertuie op die toneel is, is daar nog geen geskikte voertuig om die trok uit die pad te sleep en weer terug op sy wiele te kry nie. Dit mag nog ure neem voordat die toneel opgeruim is.
Video - Omgeslaande trok veroorsaak 'Krismis in Mei'
Die omgeslaande trok is ten dele uit die ryvlak van die pad.
Foto's: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’