Update
WILLOWMORE NUUS - Werklose inwoners van Willowmore is steeds omgekrap oor die sameloop van omstandighede wat gelei het tot verlede Maandag se publieke onrus en gevolglike arrestasie van 23 volwassenes.
Heinrich Mostert, woordvoerder van die Willowmore-werkloosheidskomitee, verduidelik dat hulle besluit het om die R329 tussen Willowmore en Steytlerville te blokkeer omdat hulle ontevrede is met die aanstellingsproses by die sementpad-projek.
Volgens hom is die name en kontaknommers van werklose mense wat by die projek moes begin werk in Junie tydens ‘n gemeenskapsvergadering getrek, maar twee weke daarna is ander mense aangestel.
Die mense wat aangestel is, was glo nie eers teenwoordig by bogenoemde gemeenskapsvergadering nie en daarom het die werkloosheidskomitee op verskeie geleenthede probeer uitreik na Euna de Vos, gemeenskapskakelbeampte vir die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit in Willowmore, sodat sy aan hulle kan verduidelik watter prosedure gevolg is om die aanstellings te maak.
De Vos was egter nie bereid om hulle toe te spreek nie en dit het gelei tot die besluit om die betrokke sementpad te blokkeer.
Hulle wou aanvanklik net die aangestelde werkers verhoed om verder te werk sodat De Vos hulle te woord kan staan maar toe sy steeds weier het hulle besluit om na die N9 te skuif.
Die openbare-orde-polisie-eenheid (Pops) moes later intree om die pad oop te maak en van die mense het op daardie stadium na die woonbuurt beweeg. “Toe die skool uitkom was dit chaos in Willowmore,” vertel Mostert.
“Skoolkinders en jongmense het begin om die buitelanders se winkels te plunder en die polisie het omtrent hul hande vol gehad. Mostert vertel verder dat kapt. Erasmus, waarnemende stasiebevelvoerder van die Willowmore-polisiestasie, hom en van die ander wat steeds op die nasionale pad was kom roep het om te gaan kyk wat in die woonbuurt aangaan.
“Dit het op daardie stadium al gebrand by die kruising van Eerste- en Vierdelaan. Raadslid Hendrik Booysen het net op sy stoep gestaan en kyk en nie eers kom vra wat aangaan nie.” Volgens Raadslid Booysen het nie een van die lede van die Willowmore-werkloosheidskomitee hom op die betrokke dag genader vir ondersteuning nie.
Hy noem dat hy en Mostert wel vantevore ‘n gesprek oor die aangeleentheid gehad het, en dat Mostert toe saamgestem het dat dit iets is wat met die kontrakteurs uitsorteer moet word.
“Toe ons terugkom by die N9 het ons gehoor dat die polisie traangas gebruik het om die mense te dwing om die pad oop te maak, As gevolg daarvan is een persoon in die hospitaal opgeneem omdat hy gesukkel het om asem te haal.”
Altesaam 23 volwassenes, insluitend Mostert, is die volgende dag, Dinsdag 26 Julie, in hegtenis geneem en moes vir twee nagte in die tronk slaap.
Hulle het Donderdagmiddag, 28 Julie, in die hof verskyn op aanklagte van openbare geweldpleging en beskadiging van infrastruktuur, en die saak is uitgestel na 1 September. Mostert is van mening dat De Vos verantwoordelik is vir die arrestasies. “De Vos is die voorsitter van die polisieforum en sy het haar mag misbruik om ons te laat toesluit.”
Mostert spreek ook sy teleurstelling jeens die munisipaliteit uit. Die waarnemende areabestuurder, Nicky Barnard, het glo vir hulle gesê dat die munisipaliteit hulself van die hele situasie distansieer en niks daarmee te doene wil wees nie.
“Nicky Barnard is die waarnemende areabestuurder en ook die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsbeampte. Hy kan mos nooit sê dat hy homself distansieer nie! Nicky Barnard se vrou is een van die subkontrakteurs maar sy gaan haal eerder mense in Rietbron om hier te kom werk.”
Rakende die rol van die munisipaliteit verduidelik Booysen dat die sementpad-projek ‘n SANRAL projek is en nie ‘n munisipale projek nie.
Die Sanral-kontrakteurs is dus verantwoordelik vir die betrokke projek en die munisipaliteit het werklik niks daarmee te doene nie omdat die munisipaliteit net verantwoordelik is vir munisipale projekte.
Mostert beklemtoon dat hulle glad nie van plan is om alles net so te los nie. “Die mense is warm onder die kraag. Hoe kan jy werk belowe word en dan sien jy hoe iemand anders in die werk instap en jy weet nie eens hoe dit gebeur het nie?”
Die werkloosheidskomitee het op Dinsdag 2 Augustus, by raadslid Ewald Loock gaan aanklop om hulp. Loock het onderneem om ‘n vergadering met die projekbestuurder te belê sodat die aangeleentheid behoorlik bespreek kan word.
Vorige artikel: Onrus op R329 tussen Willowmore en Steytlerville
Die sementpad tussen Willowmore en Steytlerville.
'Ons bring jou die nuutste Willowmore, Karoo nuus'