Update Video
WILLOWMORE NUUS EN VIDEO - ‘n Delegasie van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se administrasie sal vandag, 28 Februarie, met die Willowmore- gemeenskap vergader om die voortslepende waterkrisis te bespreek.
Hierdie vergadering is geskeduleer vir 14:00 by Willowmore-sportterrein (Kerrieblok saal).
Dit volg nadat ongelukkige inwoners gister vir die tweede keer moes terugkeer huis toe omdat daar weer niemand by die munisipale kantoor in Willowmore was om antwoorde oor die watersituasie te gee nie.
Die inwoners het Woensdag 21 Februarie ook by die munisipale kantoor vergader, met die verwagting dat die munisipaliteit aan hulle sou verduidelik wat gedoen gaan word om die waterprobleme op te los, maar tot hul ontsteltenis het beide die munisipaliteit se areabestuurder, Zenobia Hendricks, en die tegniese bestuurder glo aangedui dat hulle geen antwoorde oor water kan gee nie.
VIDEO: Ongelukkige inwoners gister op Willowmore
Na bewering is die inwoners toe na die munisipale bestuurder, Edward Rankwana, en hoofbedryfsbeampte, Hans Hendricks, verwys, maar volgens Zola Menze, verteenwoordiger van die EFF in Willowmore, het hulle pogings om met díé twee te kommunikeer egter misluk.
Mense sê dat hulle toe probeer het om die burgemeester, Willem Safers, in die hande te kry, maar dit was ook tevergeefs. Daar is glo aan hulle belowe dat die burgemeester, munisipale bestuurder, hoofbedryfsbeampte en direkteur van infrastruktuurdienste, Bennie Arends, gister daar sou wees om met hulle te praat, maar nie een van hierdie persone was te vinde nie.
Hierdie persone sal glo deel uitmaak van die delegasie vir vanmiddag se vergadering. Die Advertiser het 'n navraag oor die aangeleentheid aan die DBNPM gerig, maar nog geen antwoord ontvang nie.
Vorige artikel: Willowmore inwoners moedeloos oor waterkrisis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’