Breaking News
WILLOWMORE NUUS - Ongelukkige inwoners is tans onderweg na die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se kantoor in Willowmore om antwoorde oor die voortslepende waterkrisis te gaan eis.
Hierdie inwoners het verlede Dinsdag, 20 Februarie, ook by die munisipaliteit bymekaargekom om die waterkwessie te bespreek. Willowmore gaan nou al vir maande gebukkend onder watertekorte en -onderbrekings.
Twee dae per week word die water ook heeltemal afgesny om die reservoir kans te gee om vol te loop, maar die dorp se waterbronne wat op die plaas Wanhoop in die Uniondale-distrik geleë is, lewer net eenvoudig nie meer genoeg water om aan die dorp se behoeftes te voldoen nie.
Dit het ‘n geweldige impak op huishoudings sowel as plaaslike besighede.“Ons almal is moeg gesukkel so sonder water en ons soek antwoorde,” sê Zola Menze, verteenwoordiger van die EFF in Willowmore.
Die verwagting was dat die munisipaliteit aan hulle sou verduidelik wat gedoen gaan word om die waterprobleme op te los, maar tot hul ontsteltenis het beide die munisipaliteit se areabestuurder, Zenobia Hendricks, en die tegniese bestuurder glo aangedui dat hulle geen antwoorde oor water kan gee nie.
Na bewering is die inwoners verlede week na die munisipale bestuurder, Edward Rankwana, en hoofbedryfsbeampte, Hans Hendricks, verwys. Hul pogings om met die twee te kommunikeer het egter misluk. Volgens Menze het hulle toe probeer om die burgemeester in die hande te kry, maar dit was ook tevergeefs.
“Daar is nou niemand wat vir ons antwoorde kan gee nie. Ons is letterlik hier so sonder water gestrand,” het ‘n moedelose Menze gesê. Die inwoners hoop om vandag met Rankwana en Hendricks te ontmoet omdat die munisipaliteit glo so onderneem het.
Vele navrae rakende Willowmore se watersituasie is al aan die munisipaliteit gerig maar tot dusver het Graaff-Reinet Advertiser nog geen antwoord ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’