Update
GRAAFF REINET NUUS - Tientalle munisipale werknemers het gisteroggend, Woensdag 24 Februarie, voor die Dr Beyers Naude munisipale kantore in Graaff-Reinet bymekaargekom terwyl vakbondleiers van die munisipale werkersunies, Samwu en Imatu met die munisipale bestuurder, Dr Edward Rankwana, vergader het.
Die werknemers staak omdat hulle geen antwoorde ontvang het oor hul pensioenfonds-dilemma nie.
In Desember 2020 het dit aan die lig gekom dat die munisipaliteit sedert September 2019, ongeag salarisaftrekkings van bykans R25 miljoen, geen oorbetaling aan die werknemers se pensioenfonds gemaak het nie.
Werknemers sê hul polisse wat in die persioenfonds vervat is, het ook verval.
Dit sluit, onder andere, ongeluks- en begrafnispolisse in, en van die beamptes meld dat daar reeds sterfgevalle was, waar daar nie geld was vir behoorlike begrafnisse nie.
Die feit dat die munisipaliteit steeds kontrakte aangaan, soos byvoorbeeld vir die huur van bakkies, ten spyte van die feit dat hulle geld aan die werkers verskuldig is, word bevraagteken.
'n Beweerde kontrak met 'n sekuriteits-maatskappy om munisipale eiendom te beveilig word ook gekritiseer, omdat alles, volgens die werknemers, by hul werksplekke gesteel of gevandaliseer word.
Die DA het in Desember 'n kriminele saak teen Rankwana geopen in hierdie verband.
Munisipale woordvoerder, Edwardine Abader het onderneem om die Advertiser se vrae te beantwoord sodra sy toestemming van Rankwana kry.
Vorige artikel: Werkers eis antwoorde oor pensieonfonds
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'