Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Inwoners van die informele nedersetting, Vrygronde in Graaff-Reinet, het Vrydag 12 Februarie die N9 na Middelburg versper om hul frustrasie oor die afwesigheid van dienslewering in die kollig te plaas.
Motoriste is vir etlike ure herlei deur die Camdeboo Nasionale Park nadat die betogers die pad met klippe en brandende voorwerpe versper het.
Die brandweer, verkeer en polisie was op die toneel en na die polisie 'n paar rubberkoeëls geskiet het en ook traangas gebruik het, is die mense uiteen en die pad weer oopgestel.
Frustrasie
Gemeenskapsleiers van Vrygronde het gedurende 2020 op meer as een geleentheid met die Dr Beyers Naude Plaaslike Munisipaliteit in gesprek getree om hul uitdagings te bespreek, maar niks van die beloftes wat aan hulle gemaak is uitgevoer nie.
Die ontevredenheid spruit, onder andere, uit die feit dat daar net twee toilette en twee watertenks vir die bykans 200 inwoners van Vrygronde is. Die toilette is gereeld verstop en die watertenks word glo selde volgemaak.
Gedurende die Covid-19-inperking in 2020, het hulle vir weke aaneen sonder water gesit. Inwoners is ook bekommerd omdat die enigste kraan waartoe hulle toegang het, reg langs 'n oop drein is wat gereeld oorstroom. Dit is 'n gesondheidsrisiko omdat hulle dan deur die menslike ontlasting moet loop om by die kraan uit te kom.
Margaret Nkxanka, een van Vrygronde se gemeenskapsleiers, sê hulle vra nie baie nie.
Riool
Chantelle Arnols, wat langs die oop drein bly, kla dat die riool met tye in haar huis inloop wanneer dit oorstroom. Dit is ook 'n veiligheidsrisiko, omdat kinders wat water by die kraan drink, in die oop drein kan val.
Veiligheid oor die algemeen is 'n groot uitdaging omdat daar geen beligting is nie en vroue en kinders in die donker toilette toe stap.
Op 26 Augustus 2020 het die leierskap van Vrygronde met die ondersteuning van die Support Centre for Land Change (SCLC) met die munisipaliteit ontmoet, en 'n memorandum aan die plaaslike owerheid oorhandig.
Die versoeke sluit basiese dienslewering soos water, sanitasie, elektrisiteit en beligting in. In die memorandum het die gemeenskap gewaarsku dat hulle die N9 gaan versper indien hulle nie antwoorde kry nie, omdat dit, volgens hulle, "al taal is wat die regering verstaan".
Kyk twee video's hieronder
Bobbejane bekyk konvooi van bo. Video: Corrie van Zyl.
Die munisipaliteit het toe onderneem om binne 14 dae terugvoering te gee, maar dit is glo nie gedoen nie.
Die wildbewaarders Gert Visagie, Mzoxolo Dontsa en Andile Nofemele het die verkeer deur die reservaat gehelp. Foto: Corrie van Zyl
Vra nie baie nie
Margaret Nkxanka, een van die gemeenskapsleiers, sê hulle vra nie baie nie. "Ons wil net basiese dienste hê." Sy voer aan dat die munisipaliteit en raadslede geen belangstelling in die welstand van Vrygronde se inwoners toon nie.
Nkxanka sê nie een van die raadslede was tydens die protesoptrede daar om na hulle griewe te luister nie.
Takke en ander voorwerpe is aan die brand gesteek.
Nog leë beloftes
Volgens Nkxanka is die gemeenskap erg omgekrap omdat Bennie Roman, die sekretaris van die ANC, weereens Vrydag leë beloftes namens die munisipaliteit gemaak het. Volgens Nkxanka het hy beloof dat die munisipaliteit van Maandag 15 Februarie tot Woensdag 17 Februarie watertenks, toilette en beligting aan Vrygronde sal verskaf. Teen die Advertiser se saktyd Woensdag het daar niks van gekom nie.
Volgens munisipale woordvoerder, Edwardine Abader, dra die munisipaliteit geen kennis van enige beloftes wat Vrydag aan die inwoners van Vrygronde gemaak is nie. Sy sê die munisipaliteit gaan nie so te werk nie, en dat die burgemeester net vir 'n verkose raadslid 'n mandaat sal gee om sulke beloftes te maak - beslis nie sommer aan enige party-politieke lid of leier nie.
Die inwoners van Vygronde het Woensdag 'n gemeenskapsvergadering gehou om 'n plan van aksie te bespreek. Hulle maak dit duidelik dat hulle nie gaan ophou voordat hulle nie gehoor word nie. Hulle boodskap is: "Net omdat ons arm is beteken dit nie dat ons tevrede moet wees om onder onmenslike omstandighede te bly nie."
Die oop drein reg langs die enigste waterkraan. Foto's Chriszanne Janse van Vuuren
Karre het vir kilometers gestaan en wag vir die N9 om oop te maak.
Vorige artikel: Vrygronde-inwoners blokkeer N9
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'