GRAAFF-REINET NUUS - Die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se raadslede het op Dinsdag 28 Februarie die voorgestelde tussentydse aangepaste begroting goedgekeur. Die doel van die begroting is om "die munisipaliteit deur te dra tot die einde van die finansiële boekjaar", sê raadslid Adriaan van Heerden.
Die munisipale finansiële boekjaar strek van 1 Julie tot 30 Junie. Van Heerden sê die algemene gevoel in die raad is dat geld werklik skraps is, maar dat die begroting deeglik deurdag is.
"Die direkte effek van beurtkrag op die munisipaliteit se dienslewering is enorm."
Van Heerden verduidelik dat die munisipaliteit genoop word om water aan te ry na woongebiede in al die dorpe en dit is 'n groot addisionele uitgawe.
"Met beurtkrag soos dit is, kan die pompe nie voorbly met watervoorsiening nie.
Soms skakel die pompe ook nie weer aan na beurtkrag nie.
Dis 'n onvoorsiene uitgawe wat nou 'n permanente uitgawe moes word," bekragtig Van Heerden.
Op navraag oor die uitstaande skuld aan Eskom, het Van Heerden gemeld dat afgevaardigdes van die munisipaliteit juis gister op Woensdag 1 Maart in Gqeberha sou vergader met 'n delegasie van Eskom.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'